‘Voetspore’ se span weer op reis

Die Voetsporespan voor die Apolloteater op Victoria-Wes. V.l.n.r. is Streicher Badenhorst, Nina Badenhorst, Norbert Coetzee, Gideon Swart, Johan Badenhorst en Stefan Sonnekus. (Foto: Elize Perrin.)

Deur Elize Perrin

Reeds twee dekades lank laat die Voetsporespan, met Johan Badenhorst aan die stuur, nie net spore op die pad nie, maar ook in Suid-Afrikaners se harte. Hulle neem ons na plekke waaroor sommige net kan droom. Na verskeie Afrika-reise is die span tans besig met die verfilming van Suid-Afrika 2. In die reeks reis hulle vanaf Pafuri, in die noordelike deel van die Krugerwildtuin, na die mees suidelike punt.

Avontuur en uitdagings

Wonder jy hardop of die reise na twintig jaar nog lekker is en of dit dalk net nog ʼn werk geword het, help Johan jou gou reg. “Moet nooit ʼn job doen wat nie lekker is nie,” sê hy. Volgens hom is dit dan tyd om op te hou.

Vir baie kykers is vasval meer ʼn frustrasie as avontuur, tog reken Johan dat dit net ʼn tydelike verposing is. Hy wys daarop dat daar nog nooit ʼn geval was waar die span nie kon uitkom nie. “Dan was ek nou nog daar,” meen hy.

Die span word ook dikwels uit hul gemaksone geruk deur aan aktiwiteite deel te neem wat hul dalk nie uit eie keuse sou aanpak nie. “Dit is egter elkeen se eie keuse of hulle wil deelneem,” sê hy en vertel van sy eie hoogtevrees. Met hul besoek aan die Drakensberge het hy egter oor ʼn dertig meter lange kettingleer gestap. So daag elkeen hulself ʼn bietjie uit.

Tans is die toerismebedryf ʼn uitdaging op sy eie. Op ʼn vraag of burgers nog positief oor toerisme is, vertel Johan dat mense uitgehonger is vir toerisme en reis. Dis nie net die publiek wat uitsien na die volle opening van toerisme nie; persone in die bedryf kan ook nie wag om weer te begin nie, sê hy. “Dit gaan nie net oor die finansiële aspek nie, maar oor die aard van hulle werk. Die mense is lief vir wat hulle doen. Op die stadium word dit van hulle weerhou.” Hy vertel dat die span ervaar dat mense uitgehonger is vir geselskap en die span langer op ʼn plek probeer hou.

“Toerisme gaan voortaan meer binnelands plaasvind en dis fantasties,” sê Johan.”Dit gaan nog lank vat voor oorsese toeriste weer ons land gaan besoek.”

Johan se dogter, Nina, wat saam met haar broer Streicher ook deel van die span uitmaak, stem saam met Johan. “Die fokus gaan beslis verskuif,” sê sy.”Ons moet meer op binnelandse toerisme fokus.” Nina, wat self in die toerismesektor werksaam is, is dankbaar dat sy die jaar die toer deur Suid-Afrika kan meemaak. “Ons het ʼn wonderlike land met gasvrye mense en die beste van alles. En dit is net hier op ons voorstoep,” meen sy.

Die Voetsporespan se voertuie (Foto: M. Andrag)

Volgens Johan gaan een van die grootste uitdagings wees om mense weer terug te kry. “Mense sal innoverend moet wees en toerisme sal koste‑effektief moet wees.” Dat ʼn ernstige uitdaging op die toerismebedryf wag, is gewis.

Johan noem dat hulle as gevolg van die virus nie al die plekke kon besoek wat hul graag wou nie, soos byvoorbeeld God’s Window. Sommige plekke is nog toe en ander neem nog net dagbesoekers. Op baie plekke kon hul wel reëlings tref om plekke van belang te besoek. Hy noem dat hulle by van die plekke, soos by Witsand, die enigste kampers was.

“Dis ʼn vreemde tyd,” beaam Streicher Johan se vertelling. “Dis vreemd om deur die Krugerwildtuin te ry en die enigste mense daar te wees. Of om deur dorpe te ry wat soos spookdorpe lyk.”

Johan stem saam dat sommige mense, veral ouer mense, dalk nog versigtig kan wees om te reis. “En met goeie reg,” sê hy. “’n Mens kan nie die virus ontken nie. Daar is geen twyfel dat dit bestaan nie.”

Op ʼn vraag oor hul grootste uitdagings op die reis, noem hy dat daar tot dusver relatief min was. “Almal is beskikbaar,” sê hy. “Op verskeie plekke is ons deur toppersone ontvang, omdat hulle nog nie besig is nie.”

Vir Streicher was die grootste aanpassing om mense nie met die hand te groet nie en om deur ʼn masker te kommunikeer.

Johan noem dat dit wel nogal ʼn uitdaging is om brandstof in te gooi. “Aangesien die voertuie gemerk is, sak die mense ons toe,” sê hy.

Johan Badenhorst geniet skaapkop in die Karoo. (Foto: C. Viljoen)

Die gesin

Twee van Johan se drie kinders toer saam. Vra jy of een van sy kinders dalk in die toekoms kan oorneem, sê Johan dat die kort antwoord “nee” is. Nie een van hulle het in daardie rigting studeer nie en het nie kennis van die maak van TV-programme nie. Hy noem wel dat Nina haar eie onderneming, Voetspore Safari’s, bedryf waartydens sy toeriste op begeleide toere neem. “In daardie sin kan dit wel voortgaan,” meen hy.

Albei die kinders beskou dit as ʼn wonderlike voorreg om saam met hul pa te kan reis. “Om die stories te hoor wat my pa vertel en saam met hom nuwe herinneringe te maak, is besonders,” vertel Streicher. Hy het reeds as negejarige ʼn reis saam met die span meegemaak.

“My grootste uitdaging gaan na die toer kom om terug te keer werk toe,” meen Nina. “Ek weet ek gaan dit mis om links van my boetie te sit en deur die pragtige land van ons te reis.” Nina noem dat sy soms haar ma en suster, Heleen, mis. Sulke tye kan sy en Streicher mekaar ondersteun.

Johan Badenhorst aan die woord. (Foto: M. Andrag)

Die toekoms

Vra jy Johan om iets van sy ervaring met 4×4‑reisigers te deel, noem hy dat die voertuig slegs ʼn middel tot ʼn doel is. “Hoe meer tyd jy buite die voertuig spandeer en nie in die voertuig nie, hoe lekkerder is dit,” sê hy.

Op ʼn vraag vir hoeveel programme en reise hy nog kans sien, antwoord hy met die woorde van Pieter Pieterse saam met wie hy ook vroeër jare gewerk het. “Pieter het altyd gesê jy moenie ʼn vrou wat kraam vra hoeveel kinders sy wil hê nie. Moet my dus nie vra terwyl ek nog met die een besig is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Liewe Johan, mag ons asseblief iets meer van die omgewing sien en minder van die toerleier en die karavaan. Ongelukkig is dit ‘n vervelige reisprogram want ten spyte van die fancy plekke waarin dit afspeel sien mens net kamma-akteurs wat ry, eet en praat, praat, praat oor leè blikkies sonder veel drade.

Pieter ·

Stel Van die Kaap tot die Kunene met Pieter, Jenny en Vleislus op DVD vry. Was ‘n puik program.

Niklaas ·

Dis nou lekker werk daai. Ek sou baie graag daardie Madagaskar toer wou meemaak.

Simon ·

Daardie foto van die Apolloteater op Victoria-Wes, laat my nou ver terug dink(1995). Ek het die oom, Dr. Willem Hefer, wat destyds baie met die redding van die teater te doen gehad het, goed geken. As jy binne die teater is, is dit asof die tyd stilgestaan het. Dit is ook nie ver weg van Mannetjies Roux se bekende padstal nie. Was een jaar vroeg die oggend daar net nadat die padstal oopgesluit is. Daar was ‘n inbraak en op die yskas se deur is toe geskryf “Jammer vir die ongerief maar ek was baie honger” en bo-op die yskas is toe paar stukkies kleingeld gesit as vergoeding.

Elmarie ·

Jio wil meer sien van elke plek as die deelnemers. Mag toerisme gou weer aan die gang kom en terwyl oorsese gaste met hul dollars en goed nie kan kom, maak plekke tog bietjie meer bekostigbaar vir ons eie mense asb!

antieke antie ·

ek sou nie omgee om so n gesponserde vakansie toer te kry nie…ons land is pragtig… ek wat self gestremd/beperk is sal dit geniet om saam met so span te toer….
Pieter Pieterse se programme was baie interesant en sou dit graag weer wou sien as heruitsending…

LANA is ELANè ·

Heerlik om jou kinders deel van jou werk te kan maak, in my wêrled kan ek dit nie waag nie want dit word nepotisme genoem.
Maar nou ja, so het elke werk sy voordele, kyk nou maar na die regering, hoeveel byvoordele geniet die ministers en hul uiters komplekse uitgebreide families nie, dansky die poste wat hulle beklee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.