Wat is op die kassie?

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste plaaslike en internasionale kykstof wat reeksvrate en fliekvlooie aan die gons het.

Vandeesweek kyk ons na nuwe kykgenot wat spoedvrate aan die gons het, en die Afrikaanse “tannie” wat die land se hart gesteel het.

Plaaslike kykstof

Catch me a Killer

Showmax, 16

Charlotte Hope as Micki Pistorius in “Catch me a Killer”. (Foto: Verskaf)

Catch me a Killer het reeds in Februarie op Showmax afgeskop en handel oor Micki Pistorius, die eerste profileerder van reeksmoordenaars in Suid-Afrika.

Die rol van Micki word deur Charlotte Hope, wat Myranda in Game of Thrones gespeel het, vertolk. René van Rooyen, Brett Michael Innes en Tracey Larcombe is die regisseurs van die reeks.

Die reeks is geskoei op Micki se gelyknamige memoires en bestaan uit tien episodes. Elke episode kyk na een van haar sake, van die Cleveland Killer tot Stewart “Boetie Boer” Wilken.

Nuwe episodes verskyn nog tot 10 April.

Internasionale kykstof

Formula 1: Drive to Survive

Netflix, 16 T

Daniel Ricciardo in “Drive to Survive”. (Foto: IMDb)

Die sesde seisoen van die reeks wat ʼn nader blik gee op die lewens van die renjaers, bestuurders en spaneienaars van Formule 1 het op 23 Februarie op Netflix afgeskop.

Formula 1: Drive to Survive is ʼn dokumentêre reeks wat eksklusiewe en intieme toegang bied tot die mense wat deelneem aan die wêreld se grootste motorwedrenne.

Die reeks onthul die ware verhaal agter die hoëspoed-sport, wat verder strek as net die resies om nommer een te wees.

Formula 1: Drive to Survive bestaan uit tien episodes.

Queens

Disney +, PG

“Queens” is ʼn epiese dokumentêre reeks wat ses magtige susterskappe in die diereryk volg waar die matriarg heers. (Foto: Verskaf)

National Geographic se jongste reeks, Queens, debuteer vandag (Maandag 4 Maart) op Disney +.

Die produksie is gelei deur ʼn span van slegs vroue. Queens is ʼn epiese dokumentêre reeks wat ses magtige susterskappe in die diereryk volg waar die matriarg heers.

Queens fokus op die unieke, vroulike gedrag van ses afsonderlike dieregemeenskappe: hiënas, olifante, ringstertlemur, insekte, primate en orkas.

Die bekroonde Hollywood-aktrise Angela Bassett is die verteller.

Vir die jongspan

Hot Wheels: Let’s Race

Netflix, alle ouderdomme

Die gewilde speelding kry gestalte in die nuwe Netflix-reeks. (Foto: Netflix)

Die gewilde Hot Wheels-speelding kry gestalte in die nuwe Hot Wheels: Let’s Race-reeks vir kinders op Netflix.

Die splinternuwe reeks volg die avonture van Coop, Brights en Sidecar en hul vriende soos hulle die kronkelende renbane van Hot Wheels City verken.

Die reeks het tien episodes.

Almal praat oor

Magda Louw

KykNET, PG 13 TS

Hannes van Wyk en Desiré Gardner in “Magda Louw”. (Foto: Verskaf)

Magda Louw is ʼn tong-in-die-kies‑, knop-in-die-keel-kykie na die onvermydelike tragedies van die lewe. Tyd staan nie stil nie, oudword is ʼn gegewe en alles is net tydelik.

Desiré Gardner, wat ook die reeks gekonseptualiseer en geskryf het, vertolk die rol van Magda, wat getroud is met Erhard, vertolk deur Hannes van Wyk.

Hulle het twee kinders, Gertrude (Cindy Swanepoel) en Baltus (Bennie Fourie). Magda het ook onlangs ouma geword van haar eerste kleinkind, Louw.

Die skreeusnaakse reeks is op al wat ʼn kykNET-kyker is se lippe om die braaivleisvuur en is beslis die moeite werd as jy van egte Afrikaanse humor en vlymskerp dialoog hou.

Skakel vanaand om 20:00 in vir #MagdaLouw!

Dié gesprek is alles behalwe vrolik.???? Skakel vanaand om 20:00 in vir ’n splinternuwe episode van #MagdaLouw!????

Posted by kykNET on Sunday, March 3, 2024

Lees vorige Wat is op die Kassie-berigte hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.