Wat is op die kassie?

Maroela Media bied ʼn opsomming van die jongste plaaslike en internasionale kykstof wat reeksvrate en fliekvlooie aan die gons het.

Vandeesweek kyk ons na die nuwe fliekweergawe van ʼn Deon Meyer-roman, en Taylor Swift bring haar fenomenale konsertreeks The Eras Tour na die kassie.

Plaaslike kykstof

Heart of the Hunter

Netflix

Tim Theron, Milan Murray, Sisanda Henna, Deon Coetzee en Connie Ferguson is net ʼn handjievol van die ikoniese en gesoute Suid-Afrikaanse akteurs wat in die splinternuwe Netflix-drama Heart of the Hunter verskyn.

Die boek is geskoei op die roman deur Deon Meyer, met Mandlankayise Walter Dube in die regisseurstoel.

Bonko Khoza is in die hoofrol te sien as Zuko Khumalo, ʼn gesinsman met ʼn dodelike verlede. Sy rustige wêreld word summier op sy kop gedraai wanneer ʼn oudkollega hom herinner aan ʼn eed wat hy afgelê het en vra om die land te red.

Die spanning bou op wanneer hy dit probeer weerstaan om teruggevoer te word na sy vorige lewe, maar dit word duidelik dat dit ʼn dodelike bedreiging vir sy vreedsame gesinslewe inhou.

Die fliek begin op 29 Maart op Netflix wys.

Internasionale kykstof

Taylor Swift: The Eras Tour (Taylor’s Version)

Disney+, ouderdombeperking 14+

Taylor Swift se Eras-toer is wêreldwyd ‘n fenomeen. (Foto: IMDb)

Die Amerikaanse superster Taylor Swift se konserttoer The Eras Tour is die afgelope jaar ʼn wêreldwye fenomeen.

Dié konsert is nou op Disney+ te sien, met vyf bonus liedjies wat nie by die teater- of digitale weergawes ingesluit is nie.

Die konsert is drie en ʼn half uur lank en het ʼn ouderdomsbeperking van 14.

 

Avatar: The Last Airbender

Netflix, ouderdomsbeperking 13+

Gordon Cormier as Aang in ‘Avatar: The Last Airbender’. (Foto: IMDb)

Die reeks speel af in ʼn oorloggewikkelde wêreld waar sekere mense een van die vier elemente – water, aarde, vuur of lug – kan beheer.

Aang, die Avatar en die laaste oorlewende airbender, is die verbinding tussen die lewende en spirituele wêrelde en is die enigste een wat al vier die elemente kan beheer in plaas van net een.

Die reeks van agt episodes is op Netflix te sien.

Vir die jongspan

Barbie and Stacie to the Rescue

Netflix, geen ouderdomsbeperking

Stacie, Barbie en Skipper oorkom onverwagse struikelblokke en bemeester kursusse terwyl hulle oor die krag van spanwerk leer in hierdie aksiebelaaide avontuur.

Die fliek is 61 minute lank en is op Netflix te sien.

Almal praat oor

Blood & Water

Netflix, ouderdomsbeperking PG16 (taal, geweld)

Die vierde seisoen van Blood & Water is onlangs by Netflix se biblioteek gevoeg en handel oor Puleng, ʼn skooldogter wie se suster, Phume, kort ná geboorte as deel van ʼn mensehandelnetwerk ontvoer is.

Puleng kom agter die geheim van haar vermiste suster is nie die enigste geheim wat haar familie en vriende van haar weerhou nie.

Die Suid-Afrikaanse tiener-misdaaddrama is ontwikkel deur Gambit Films, met Ama Qamata, Khosi Ngema en Gail Mabalane in die hoofrolle. Greteli de Swardt, Arno Greeff en Natasha Thahane verskyn ook in die reeks.

Lees alle Wat is op die kassie-berigte hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.