Wie sal ‘die groenste vingers’ hê?

Ilse Barnard-Walker, een van die deelnemers van die tweede seisoen van “Die Groenste Vingers”. (Foto: verskaf)

“Langer episodes, groter uitdagings en meer geld om te wen.”

Só vertel Edrien Erasmus, aanbieder van kykNET se bloemistewerklikheidsprogram, Die groenste vingers, opgewonde oor die tweede seisoen van die kompetisie vertel.

Van die land se talentvolste bloemiste neem deel aan die kompetisie, elkeen met die hoop om die prys van ’n R100 000 aan die einde van die reeks los te slaan.

“Die eerste seisoen was reeds so lekker. Ek het soos ’n blommemeisie gevoel. Dié seisoen is nóg groter, ek sien baie daarna uit dat mense dit moet sien,” sê Erasmus .

Die twee beoordelaars van die program, Leon Kluge en Franz Gräbe, is veral opgewonde oor die wye verskeidenheid deelnemers wat in die tweede seisoen te sien gaan wees.

“Die deelnemers is meer gevorderd en het meer ervaring as wat die vorige seisoen se deelnemers gehad het,” het Gräbe aan Maroela Media vertel.

“Dit was baie interessant om te sien wie wat kon doen en wie nog nie sekere goed gedoen het nie. Daar was een deelnemer wat jonk is, maar wat voorgekom het soos ’n ouer deelnemer omdat sy ouma hom geleer het om blomme te rangskik.”

Dié samekoms van generasies is nie net iets wat in die deelnemers se vermoë weerspieël word nie, dit kan ook in die verskeidenheid deelnemers gesien word. Daar is deelnemers van verskillende ouderdomme, met van hulle wat in hulle 20’s is en van hulle wat in hul 50’s is.

Gräbe, wat deur sy loopbaan as bloemis rangskikkings vir die Suid-Afrikaanse modeweek én Oprah Winfrey gedoen het, is van kindsbeen af gek daaroor om blomme te rangskik.

“My ma en pa was baie lief vir plante. Blomme is in my bloed.

“Ek onthou hoe ons by my ouma in Bethlehem in die ouetehuis gekuier het. Sy het die lelikste paar plastiekblomme in ’n mandjie op haar bedkassie gehad. Elke keer as ons by my ouma gaan kuier het, wou ek die blomme uithaal, rangskik en terugpak. Kan jy dink hoe my pa gereageer het? My ouma het dan vir hom gesê ‘Los die kind, laat hy dit doen!’”

Dié staaltjie uit sy kinderdae het egter die grondslag van sy loopbaan as bekroonde bloemis gevorm.

Hy gesels graag oor die besonderse verhoudings van begrip en vriendskap wat hy deur die jare met kliënte aangeknoop en bewaar het.

“Daar is twee goed in ’n vrou se lewe waaraan jy nie moet karring nie – haar bloemis en haar haarkapper,” het Gräbe skertsend oor die aard van sy beroep gesê.

Dit is dus vir hom heerlik om sy beroep in die wyse van ’n werklikheidsreeks in die kollig te stel.

Gräbe sien uit daarna om talle gasbeoordelaars deur die loop van die tweede seisoen te verwelkom.

“Mense gaan nie net die heeltyd hoef te luister na wat ek dink nie. Daar is baie verfrissende oomblikke in dié seisoen.”

Kykers kan hul vere, of eerder blommerangskikkings, regskud vir reuse-uitdagings en asemrowende samevoegings van die mooiste, kleurvolle blomme.

Kluge glo dat hy en Gräbe mekaar uitstekend as beoordelaars aanvul.

“Sy kennis lê meer by rangskikkings en myne by plante wat nog in die grond is,” het Kluge aan Maroela Media gesê.

Kluge bied ’n unieke blik as beoordelaar, aangesien hy al self aan talle internasionale blommerangskikkingskompetisies deelgeneem het.

“Ek kan my vereenselwig met hulle. Ek weet hoe dit voel wanneer die sweet uitslaan van spanning. Vanuit my perspektief, verstaan ek waar hulle vandaan kom.”

Hy meen egter dat die druk wat met die kompetisie gepaard gaan, dié van ’n loopbaan van ’n bloemis weerspieël.

“Wanneer jy teen tyd werk en moet voorberei vir ’n troue, is die stres vanselfsprekend. Dit loop byna nooit heeltemal vlot nie. Ons het dit in gedagte gehou met die skep van die uitdagings wat die deelnemers moes voltooi.”

  • Die groenste vingers skop op Woensdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, af, met nuwe episodes wat weekliks uitgesaai sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.