Wysneus Johan vertel oor rol in ‘Getroud met rugby’

Dirk Jacobs as Johan Vermeulen in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Willem Botha)

As die klein Johan, die bekende Stryders-rugbyspeler Blitz Vermeulen se seun in Getroud met rugby, het die akteur Dirk Jacobs kykers van dié gewilde kykNET-sepie warm onder die kraag óf lam in die knieë.

“Dit is ʼn karakter waarvan jy óf baie hou, óf glad nie,” sê die 12-jarige Dirk, wat sedert 2019 weeksaande op die kassie as die bekkige Johan verskyn.

Die rol van Blitz word deur Werner Coetser vertolk. Mandie du Plooy-Baard vertolk die rol van Johan se ma, Lienkie. Blitz en Lienkie is onlangs tydens ʼn glansgeleentheid getroud en die Vermeulen-gesin is herenig.

Dirk is op 1 April gebore en dié verjaardag pas sy persoonlikheid soos ʼn handskoen. Hy is ʼn regte grapjas en terggees, sê hy.

Van kleins af het hy sy drie ouer sussies op redenaarskompetisies dopgehou en sommer vroeg-vroeg al besluit dit is wat hy ook wil doen. Dirk het egter geen formele drama-opleiding nie en het die rol in Getroud met rugby toevallig losgeslaan.

Werner Coetser en Mandie du Plooy-Baard saam met Dirk in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Willem Botha)

Enel Viljoen, lynvervaardiger van die sepie, is skoolvriendinne met Dirk se ma, Marelize, en het van Dirk se pittige redenaarsvermoë te hore gekom. Hy het eers in Deon Meyer en Deon Opperman se televisierolprent Bottervisse in die jêm verskyn as die klein wysneusseuntjie Buks Barnard.

Opperman het soveel van die karakter in dié fliek gehou dat hy vir Dirk ʼn soortgelyke rol in Getroud met rugby aangebied het.

“Om ʼn akteur te wees voel nie vir my soos werk nie. Ek geniet dit ongelooflik baie. Ek kan my woorde vir die tonele baie vinnig leer. Ek sal dit graag eendag as ʼn professie wil doen,” sê Dirk.

Hy vertel sy speel-speel-ouers leer hom baie op die stel. “Dit is ʼn groot leerskool vir my om teenoor gesoute akteurs soos Werner en Mandie te speel. Ek hou baie van die verhouding wat ons agter die skerms ook het, want ons gesels lekker en daar is altyd iets nuuts wat ek hulle kan vertel.

“Ons het baie raakpunte en het soveel gemeen. Hulle is ook trots op hulle werk as akteurs en leer my ook dat ek my beste moet gee sodra die kameras begin rol.”

Dirk Jacobs. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Op ‘Getroud met rugby’ se 10de verjaarsdagvieringe. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Hy is tans ʼn gr. 6-leerder aan die Unika Laerskool in Randburg en skiet slegs sy tonele wanneer dit nie met sy skoolwerk oorvleuel of inmeng nie, vertel hy.

“My ma het van die begin af gesê skool is eerste prioriteit. Voor die inperking het ek altyd net in die middae ná skool geskiet, maar toe die skole sluit hierdie jaar kon ek in die oggende ook skiet. Nou gaan ek ook net elke tweede dag skool toe, so ek skiet op die dae wat ek nie skool toe gaan nie,” verduidelik hy sy skedule.

Dirk skerts dat die heerlike kos en melkskommels die beste deel van sy rol as Johan is. “Dit was voor Covid-19, natuurlik,” skerts hy en voeg by dat hulle weens die regulasies as gevolg van die Covid-19-pandemie nie meer voor die kameras mag eet nie.

Hy lag as hy vertel dat hy nog nooit in Gauteng deur sepie-aanhangers op straat voorgekeer is nie, maar dat ʼn paar mense hom in Bloemfontein herken het.

“Dit was vir my lekker om herken te word. Ek het vir my ma gesê ek dink ons moet Bloemfontein toe trek,” skerts hy.

Getroud met rugby is weeksaande om 18:00 te sien op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Ek geniet hierdie mannetjie vreeslik baie. Hoop hy is nog lank by Getroud Met Rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.