Die duurste hasie in die wêreld

“Rabbit” deur Jeff Koons (Foto: AP Photo/Seth Wenig)

ʼn Kunswerk deur Jeff Koons is vir $91,1 miljoen (ongeveer R1,3 miljard) op ʼn veiling in New York verkoop. Dit verbeter die vorige rekord van die bedrag wat betaal is vir ʼn kunstenaar wat nog leef.

Die Amerikaanse kunstenaar se 1986-kunswerk, “Rabbit”, ʼn vlekvryestaal-model van ʼn opblaas-hasie, is 104 cm lank. Die afslaers Christie’s het verwag dat die kunswerk vir tussen $50 miljoen en $70 miljoen sou verkoop.

Volgens die New York Times het die kunshandelaar Robert E Mnuchin die bod gewen. Mnuchin is die pa van die sekretaris van die Amerikaanse tesourie, Steven Mnuchin. Mnuchin het die veiling bygewoon en gesê hy koop die kunswerk namens ʼn kliënt.

Artnet het intussen onthul dat die verskansingsfondsmiljardêr Steve Cohen, die nuwe eienaar is van “Rabbit”. Die aanlyn publikasie het nie bekend gemaak hoe hulle die inligting bekom het nie. Cohen (62) het vroeër ontken dat hy die kunswerk gekoop het. Mnuchin en Jonathan Gasthalter, woordvoerder vir Cohen, asook ʼn woordvoerder van Christie’s, wou nie kommentaar lewer nie.

Die transaksie verbeter die rekord wat verlede jaar in November deur David Hockney opgestel is. Dié Britse kunstenaar se skildery, “Portrait of an Artist (Pool with Two Figures)” is vir $90,3 miljoen verkoop.

Voor Hockney het Koons ook met die rekord gespog. Sy kunswerk, “Balloon Dog”, is in 2013 vir $58,4 miljoen verkoop.

In die 33 jaar sedert “Rabbit” vir die eerste keer by Ileana Sonnabend se galery in New York uitgestal is, is daar duisende woorde oor die kunswerk geskryf. Dit lok gewoonlik debat uit, want die kunswerk word onder andere as oulik, onheilspellend, tekenprentagtig, imposant, nutteloos, sexy, ikonies en betowerend beskryf.

“Rabbit” was een van elf werke wat as deel van die SI Newhouse-versameling verkoop is. Die versameling het altesaam $216 287 500 gehaal. “Namens die familie en myself wil ek graag ons dankbaarheid uitspreek vir die werk wat Christie’s gedoen het,” het Tobias Meyer, raadgewer vir die Newhouse-familie, ná die veiling gesê. “Ons is baie tevrede met die uitslag.” Lees meer oor die uitstalling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sandy ·

Dammit, my man werk met vlekvrye staal, pleks hy so ‘n hasie gemaak het, dan hoef ek nie eens meer te werk nie ; – ))

Johann cb ·

Sexy? Ek weet darem nie! Wonder of sy stertjie ook kort is…sy prys is nie!

Chris ·

Sou ten minste verwag het dat die hasie, wat nie eers so mooi en lekker soos n Paashasie is nie, van suiwer Platinum gemaak sou wees, Maar Vlekvrye staal? nie eers n magneet klou aan die metaal nie. koos noem iets van “Geldwassery“?
En hulle noem dit n Kunswerk!!!!!! en haal n prys van R1300 miljoen rand!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.