Die grootste ja-woord ooit!

Skermgreep uit die video

ʼn Man van Tokyo se naam is in die Guinness-wêreldrekordboek opgeteken vir die grootste GPS-tekening ooit.

Dié huweliksaanbod het ses maande se langpadreis, Google Earth, GPS en baie toewyding geneem om te voltooi.

Yasushi “Yassan” Takahashi se ongelooflike storie, wat Google Donderdagoggend op sy Twitter-blad gedeel het, het vinnig opslae gemaak op sosiale media.

Yassan het al in 2008 geweet hy wil sy meisie, Natsuki, vra om te trou. Hy skep al ongeveer 10 jaar lank kuns met Google Earth en Street View en het besluit om dit by sy groot vraag in te sluit.

GPS-kuns is ʼn digitale tekening op grootskaal deur met ʼn GPS-toestel te reis op ʼn voorafbepaalde roete, verduidelik Google. Wanneer die roete dan op Google Earth gelaai word, is die tekening duidelik.

Yassan het ʼn yslike “Marry Me” met boonop ʼn hartjie daarby oor die kaart van Japan geteken.

Hy het sy werk bedank en ʼn roete van Hokkaido na die kusgebied van Kagoshima beplan. Ná ses maande op die pad het hy meer as 7 000 km afgelê om die huweliksaanbod uit te lê.

Natsuki het natuurlik “ja” gesê! “Dit was ʼn groot verrassing,” het sy aan die South China Morning Post gesê. “Ek voel geliefd!”

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jan Botha ·

Hierdie is verseker die grootste ‘vra-woord’, maar waar is die ja-woord?

Desire ·

Hy is darem die romantieste ou wat ek nog van gehoor het. Watter meisie sal nie gevlei voel as ‘n man haar so vra nie. Ek sal sy sokkies soen en vir hom baie lekker kos maak.

Boertjie ·

Ai toggie 7000km in 6 maande ongeveer 36km n dag en sy werk bedank lol! Dit kan gedoen word op n rekenaar in n paar minute!

Alta ·

Dit is seker so, maar dit sou nie dieselfde betekenis en impak gehad het nie. Boonop het hy plekke gesien waar hy nog nie voorheen was nie. Ek hoop nou net hy vat haar en gaan wys vir haar ook alles.

Andreas ·

As hy werklik so lief vir haar is, kon hy die rit om die aardbol aangepak het, en dan net gehoop het sy is nog daar teen die tyd wat hy weer by die huis aankom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.