Die grootste malvalekker ooit

(Foto: Guinness-wêreldrekords)

ʼn Yslike malvalekker van 648,40 kg is geskep deur Mazapán de la Rosa SA de DV van Mexiko.

Om jou ʼn idee te gee, ʼn Steinway D274-vleuelklavier weeg maar net 480 kg.

Die malvalekker is tydens ʼn spesiale geleentheid onthul as deel van die 200ste herdenkingsvieringe van die staat Jalisco in Mexiko.

Die amptelike rekordpoging het in ʼn tydelike aanleg in die Plaza Fundadores in Guadalajara plaasgevind. Guinness-wêreldrekordbeoordelaar Carlos Tapia was twee dae lank op die toneel om die poging dop te hou en die rekord te bevestig.

Die reusagtige malvalekker is deur kenners en gesondheidsinspekteurs voorberei. Dit is later amptelik uit die vorm gehaal en geweeg – en as ’n nuwe wêreldrekord aangewys.

Dit het 113 minute geneem om die vorm met die malvalekkermengsel te vul en daarna het dit 48 uur geneem om te stol.

Daar was ongeveer 53 ure van voorbereiding en 100 mense het hand bygesit.

Die lekker is daarna aan die gaste en die publiek uitgedeel om te verorber.

Die vorige rekord was ʼn skamele 93,10 kg wat die Berkhamsted-skool in die Verenigde Koninkryk in Oktober 2019 opgestel het.

Dulces Mazapán de la Rosa is ʼn lekkergoedmaatskappy wat in 1949 sy deure oopgemaak het.

(Foto: Guinness-wêreldrekords)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.