Die lelikste kleur in die wêreld?

Pantone 448 C (Foto: علاء – eie werk via Wikimedia Commons)

Pantone 448 C word beskryf as “die lelikste kleur in die wêreld”.

Dit is ʼn vaal donkerbruin en is in 2012 gekies as die kleur vir onversierde tabak- en sigaretverpakking in Australië toe marknavorsers bevind het dit is die onaantreklikste kleur. Die Australiese regering het oor die afgelope paar jaar wette ingestel om sigaretverpakking so onaansienlik as moontlik te maak in ʼn poging om verbruikers af te raai om te rook. Die onversierde pakkies het nie enige handelsmerke nie, het groot gesondheidswaarskuwings en grafiese foto’s van die gevolge van rook.

Die regering het die navorsingsgroep GfK Bluemoon in 2012 genader en gevra om met verpakking vorendag te kom wat so onaantreklik as moontlik sal wees, aldus The Brisbane Times. Hulle het drie maande lank navorsing gedoen en uiteindelik bepaal dat Pantone 448 C met dié kroon sal wegstap.

Sigaretpakkie in België (Foto: The RedBurn, eie werk via Wikimedia Commons)

Volgens die span word die kleur oor die algemeen beskryf as “dood”, “vuil” of “teer” – sonder enige positiewe byvoeglike naamwoorde.

Die Australiese departement van gesondheid het aanvanklik na die kleur verwys as “olyfgroen”, maar die naam is verander ná kommer deur die Australiese olyfvereniging.

Dieselfde kleur word sedert 2016 ook gebruik vir onversierde sigaretverpakking in verskeie lande, insluitend Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Ierland, Israel, Noorweë, Nieu-Seeland, Slowenië, Saoedi-Arabië, Uruguay, Thailand, Turkye, België en Nederland.

Intussen is Pantone 17-3938 Very Peri aangewys as die kleur van die jaar vir 2022. “Very Peri” word beskryf as ʼn kleur wat “persoonlike vernuftigheid en kreatiwiteit” aanspoor.

Pantone 17-3938 Very Peri – die kleur van die jaar vir 2022 (Foto: Pantone.com)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Lyk soos die kleur van ‘n “tande doek”. Diegene wat baba’s gehad het sal verstaan.

Blue eye ·

Lag ek nou te lekker… Regtig kom wees nou eerlik as jy rook, rook jy niemand gaan jou maak stop deur n lelike pakkie nie. Net jy self moet die wil he om te stop. Hulle dink nes die ANC nou????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.