Dié seun is ʼn menslike sakrekenaar

Aaryan Shukla (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Aaryan Shukla (13) van Maharashtra, Indië, het ʼn groot gehoor sprakeloos gehad toe hy ʼn Guinness-wêreldrekord ingepalm het vir sy ongelooflike wiskundige vaardigheid.

Op die stel van die Italiaanse TV-reeks Lo Show Dei Record, het dié “menslike sakrekenaar” die rekord opgestel vir die vinnigste tyd om in sy kop 50 vyfgetalsyfers bymekaar te tel – binne slegs 25.19 sekondes.

Dis ongeveer een berekening elke 0,5 sekondes.

Aaryan het op die verhoog gestaan en na ʼn groot skerm gekyk. Al vyftig getalle (elkeen met vyf syfers) het een ná die ander voor sy oë geflits – só vinnig dat die gemiddelde lid van die gehoor dit byna nie kon lees of prosesseer voor dit verdwyn en met ʼn volgende getal vervang is nie.

Ná die laaste een gewys het, het dit Aaryan net ʼn paar sekondes geneem om die berekening in sy kop af te handel voor hy met die korrekte antwoord vorendag gekom het – voor ʼn gehoor wat verstom gesit het.

“Ek het as sesjarige begin om somme in my kop uit te werk. Ek het geleidelik al moeiliker somme begin doen. Daarna het ek aan kompetisies begin deelneem en uiteindelik was ek die wêreldkampioen,” verduidelik hy aan Guinness-wêreldrekords. “Die lekkerste hiervan is dat ek my land op verskillende verhoë kan verteenwoordig.”

Aaryan met sy Guinness-sertifikaat en medalje en voor sy rekenaar (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Aaryan het die gesogte Mental Calculation World Cup in 2022 in Paderborn, Duitsland, ontvang. Hy is een van die stigter-raadslede van die Global Mental Calculators Association (GMCA).

GMCA se missie is om samewerking aan te moedig tussen mense wat somme in hul kop kan doen, dié wiskundige vaardigheid wêreldwyd te verhoog en ʼn unieke liga te vorm.

Wat skoolwerk betref is wiskunde maar net een van Aaryan se talle gunstelingvakke. “Ek hou net so baie van geskiedenis, fisika, geografie en wetenskap.”

Hy het ook talle ander stokperdjies. “Ek lees graag boeke, hoofsaaklik avontuur- of raaiselverhale. Ek speel ook graag krieket en kyk dit baie. Ek hou daarvan om inligting oor krieket in te samel! Ek kyk ook graag voetbal. Ek speel dit nie eintlik nie, maar ek hou daarvan om die statistieke te volg.”

Hy het nog nie besluit wat hy wil word as hy groot is nie, maar dit sal waarskynlik iets met wiskunde te doen hê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.