Enorme skoene spesiaal laat maak vir tiener

Dié paar skoene is nou te klein vir Eric (Foto: GoFundMe/If the shoe fits)

Eric Kilburn Jr van Clarkston in Michigan, VSA is maar net 14 jaar oud, maar sy skoengrootte is reeds ʼn nommer 23 in die VSA, of waarskynlik ʼn nommer 17 in die Verenigde Koninkryk.

Meeste omskakelingskaarte, om te bepaal watter skoengrootte dit in Suid-Afrika sal wees, dui gewoonlik slegs VSA-groottes aan tot ʼn nommer 13. Selfs ʼn geselsbot kon nie van hulp wees nie. Volgens ChatGP is 23 ʼn yslike groot skoen en is die beste verduideliking om aan te dui dit is groter as ʼn basketbal of ʼn waatlemoen.

Die voormalige basketbalspeler Shaquille O’Neal dra ʼn nommer 22-skoen en een van sy voete is sowat 36,8 cm lank.

Eric, ʼn hoërskoolleerder wat reeds 2,08 m lank is, sukkel al jare lank om skoene te kry wat hom pas.

Eric en sy gesin saam met Robb Cropp (Foto: Rebecca Kilburn/Facebook)

Eric se familie het verlede jaar op nommer 21- en 22-skoene by Nike afgekom en al sewe pare gekoop. Vir die eerste ruk in ʼn lang tyd het hy skoene gehad wat uiteindelik ordentlik gepas het en cool gelyk het. Hulle was opgewonde dat dit uiteindelik die antwoord sal wees, maar hy het vinnig in die nommer 21-grootte skoen ingegroei en uiteindelik die nommer 22’s.

Under Armour, ʼn maatskappy wat sportklere en skoene vervaardig, het van Eric te hore gekom en aangebied om spesiaal vir hom skoene te laat maak.

Robb Cropp, senior direkteur van skoenontwikkeling by Under Armour, het die gesin op 26 Maart ontmoet om ʼn 3D-skets te maak van die tiener se voete.

Dié vorm sal nou gebruik word om spesiaal vir Eric skoene te laat maak. Eric sal tussen ses tot agt weke lank moet wag vir die spesiale skoene. Under Armour het ook, spesiaal vir die voetbalseisoen, ingestem om ook vir hom ʼn paar spykerskoene te laat maak.

Rebecca Kilburn, Eric se ma, het gesê Under Armour het haar seun se lewe verander toe hulle hand uitgesteek het om te help.

“Dit voel of ʼn groot gewig van my skouers af gelig is,” het Rebecca gesê. Sy hoop om nou ʼn niewinsgerigte organisasie te begin wat ander families kan help wat soortgelyke probleme ondervind. Sy het reeds ʼn Facebook-blad genaamd “Big Shoe Network” begin.

Die gesin het ook reeds meer as $23 000 op ʼn GoFundMe-blad ingesamel om ʼn fonds vir Eric te begin sodat hy nog klere en skoene in sy grootte sal kan aanskaf deur sy lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.