Foto’s: Huis met sy eie tronk te koop

Die tweeslaapkamerhuis met ʼn klein gevangenis. (Foto: House of Brokers)

ʼn Huis wat in die Amerikaanse deelstaat Missouri te koop is, het die internet behoorlik aan die gons ná dit aan die lig gekom het dat ʼn klein gevangenis met selle en ʼn aanhoudingskamer by die koopprys ingesluit is.

Die huis is in 2005 opgeknap met moderne afwerkings wat die tradisionele argitektuur en karakter aanvul, maar dit is die wettige gevangenis wat wenkbroue laat lig.

In die kombuis langs die wit kaste en marmerafwerkings is ʼn grys metaaldeur wat na die private gevangenis lei.

Die aanhoudingskamer het twee metaalstapelbeddens en ʼn basiese toilet wat omring word met metaaldiefwering en ʼn seldeur. Die ander nege selle is ontwerp vir enkelbesetting. Die huis se buitevensters en deure is ook met metaalstawe bedek.

House of Brokers, die eiendomsagentskap wat dié tweeslaapkamerhuis verkoop, beskryf die huis as ʼn “buitengewone en unieke geleentheid” met “eindelose moontlikhede”.

Dit is egter die “moontlikhede” van die huis wat mense op sosiale media bekommer, met sommige gebruikers wat opmerk dat die beskrywing bloot moet sê “slegs psigopate sal in aanmerking kom”.

Die eiendom is op Twitter gedeel deur @SairaKH met die onderskrif: “Hierdie pragtige huis met ʼn volledige tronk kan joune wees vir slegs $350 000.”

Talle gebruikers het ook die snaakse “moontlikhede” van dié huis uitgewys. “Geniet ʼn vreedsame maaltyd bo in die wete dat jou gevangenis veilig benede is,” skryf een gebruiker.

“Beste suite vir jou skoonma.”

Een sel is beskryf as ʼn “spesiale kamer vir stoute kinders” terwyl ʼn ander meen dat pa’s hier maklik van hulle dogters se kêrels ontslae kan raak.

Een gebruiker was egter bekommerd oor mensehandel met só ʼn wettige gevangenis. “Nou kan jy jou mensehandeltronk vrylik op die ope mark verkoop – cool, cool, cool.”

Maar dit blyk dat daar wel ʼn logiese verduideliking vir die private gevangenis is. Die tweeslaapkamerhuis is in 1875 gebou en het destyds as die polisiehoof se huis en die omgewing se gevangenis gedien.

Mike Diamond, die eienaar van die huis, het gesê die huis is die afgelope tyd as Airbnb-verblyf beskikbaar gestel en mense kon ook geleenthede daar hou. Diamond meen die huis sal aangewend kan word as ʼn sogenaamde “escape room”, ʼn brouery of ʼn restaurant.

Die gevangenis:

Die tweeslaapkamer huis:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Daai sink dak lyk nie baie veilig nie. Ek glo die “gevangenis”sal maklik kan ontsnap.

Katrina ·

Dalk kan die huis relatief maklik in ‘n unieke gastehuis omskep word, elke “sel” kan smaakvol in ‘n netjiese gaste-kamer her-ontwerp word.

saggiespraat ·

Ek sou dit gebruik om mense wat verslaaf is aan drugs of alcohol te help.

Adam Adriaan ·

Daardie huis was seker gebou deur ‘n ou wat nie baie lief vir sy skoonma was nie. Die sel was seker skoonma se slaapkamer as sy sou kom kuier.

capie ·

Niks snaaks nie. Ons huise is tog maar net tronke vir onsself in die nuwe vrye sa

Niklaas ·

My woning is reeds ‘n tronk weens die land se misdaad syfer. Dis ewe moeilik om in te breek as uit te breek. En steeds voel ons nie heeltemal veilig nie.

Susan ·

Die huis buite lyk soos die vd huis wat in die tv program Charmed gebruik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.