Happy het ʼn glimlag op sy lyf

Happy (Foto: Farm World – Lardner Park/Facebook)

ʼn Kalfie van die Holstein-Friesian-ras staan nou as “Happy” bekend danksy die glimlag-gesiggie op sy lyf.

Volgens ABC News is Happy vroeër vandeesweek op ʼn plaas in Ripplebrook, Gippsland in Australië gebore. Megan en Barry Coster, wat sowat 700 kalwers per jaar teel, is die eienaars van die plaas.

“Ons het al sewes of harte op die kop opgemerk en ʼn paar ander vreemde merke, maar nog nooit iets wat soos ʼn glimlag-gesiggie lyk nie,” het Megan gesê.

Toe Happy gebore is, het Barry opgemerk daar is ʼn paar ander merke op sy huid. Hy was verbaas toe hy die glimlag opmerk. Hy het dadelik ʼn foto vir sy vrou gestuur.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek het die foto vergroot om seker te maak dat een van ons werkers nie dalk ekstra lyne bygevoeg het nie,” het Megan bygevoeg. “ʼn Paar van ons werkers was gretig om hom as ʼn troeteldier te hê en hom as ʼn grassnyer te gebruik!”

Daar was egter groter planne vir Happy. In plaas daarvan dat hy net op die plaas by die Costers bly, het Lardner Park hom aangeskaf in ruil vir ʼn skenking van $10 000 aan die West Gippsland-hospitaal. Lardner Park word gebruik vir funksies, feeste, konserte en meer, aldus die park se webwerf.

Craig Debnam, uitvoerende hoof van Lardner Park, sê aan Fox TV Stations Happy het ʼn “lieflike geaardheid en is baie aktief”. “Hy wei goed en dit lyk of hy homself tuisgemaak het by Lardner Park. Ons weet sommer hy gaan ʼn glimlag op elkeen se gesig sit!”

Welcome to Lardner Park 'Happy' ????!We are excited to announce that 'Happy' the Calf is joining the team at Lardner…

Posted by Farm World – Lardner Park on Monday, March 20, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

“Ek kon dit nie glo nie. Ek het die foto vergroot om seker te maak dat een van ons werkers nie dalk ekstra lyne bygevoeg het nie,” het Megan bygevoeg.

Nou voeg ek dit ook by. Dat dit naastenby sò lyk is heel geloofbaar, maar verseker het Photoshop hier bygedra om die effek te verhoog. Komàan, ons is groot mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.