Huiskat kom weer – selfs ná verassing …

Simba (Foto: Preternatural/Facebook)

Enigiemand met ʼn troeteldier weet hoe hartseer dit is wanneer mens hulle aan die dood afstaan – dit voel byna soos ʼn lid van die gesin wat heengegaan het.

ʼn Gesin was baie hartseer toe hulle 14-jarige huiskat, Simba, oornag verdwyn het. Hulle harte het egter gebreek toe hulle die volgende dag op ʼn kat se lykie afgekom het wat presies soos Simba lyk.

Freddy en Sinead O’Cleirigh van Belfast in Noord-Ierland, sê die kat het boonop ʼn identiese stukkie wit pels op haar bors gehad – en hulle het aangeneem dit is Simba.

“Simba het die hele nag nie teruggekom nie en my man het vroegoggend opgestaan om na ʼn gimnasium te gaan. Hy het op ʼn dooie kat afgekom wat deur ʼn motor getref is. Ons het gehuil en my seuns was verslae.”

Die egpaar het die dier na ʼn veearts geneem waar hulle ʼn emosionele seremonie gehad het en selfs ʼn grafsteen gekoop het om haar te onthou. Hulle het sowat R1 100 betaal vir die verassing en nog byna R500 vir die grafsteen.

“Ons het haar haar hele lewe lank gehad, so ons het gedink sy verdien ʼn behoorlike seremonie omdat sy so groot deel van die gesin was.”

Toe hulle terugkeer huis toe, het hulle die hartseer nuus met Connell (17) en Stiofan (5) gedeel. ʼn Paar uur later was die gesin egter verstom toe Simba doodluiters by die voordeur opdaag.

“Ons wou die seuns opbeur met pizza, en toe my seun saam met sy meisie na die motor toe stap, het hy ʼn klein katjie in die oprit sien stap. Almal het geskree omdat Simba uit die dood uit opgestaan het. Ons was so bly en ons was verheug,” verduidelik Sinead. “Ons het aan my jongste seun verduidelik daar is ʼn reënboogbrug en dit is waarheen katte en honde gaan wanneer hulle ster, so dit het nou heeltemal daardie illusie versteur – hy dink nou alle troeteldiere kan terugkom!”

Die gesin het van sosiale media gebruik gemaak om die eienaar van die kat, wat veras is, op te spoor sodat hulle die as aan die eienaar kon oorhandig.

Nuus oor die flater word wyd op sosiale media gedeel.

“Dit was ʼn vreemde dag. Ek kan nie ophou lag oor dit wat ons gedoen het nie; ek bedoel – ons het selfs ʼn grafsteen bestel!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hasie ·

Ag nee 5 jaar oud en hy weet nog nie dat dood realiteit is nie ? Hy groot genoeg om dit te verstaan . Praat die waarheid met die kind en moenie sy intelegensie onderskat nie. Kinders is slimmer as wat hul ouers dink .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.