Ja-woord nou op Google Maps te sien

Steffen Schwarz se ja-woord (Foto: Google Maps)

Steffen Schwarz (32), ʼn deeltydse boer in Duitsland, het besluit om op ʼn groot skaal sy meisie te vra om met hom te trou.

Schwarz het sy meisie al verlede jaar in Mei gevra om met hom te trou – maar dié ja-woord maak nou internasionaal opslae omdat dit op Google Maps te sien is.

Hy het ʼn mielieplanter gebruik om die groot vraag te vra op sy land in Hüttenberg. Die gapings in die mielies vra in Duits: “Sal jy met my trou?”

Schwarz het sy meisie aangemoedig om met ʼn hommeltuig oor die land te ry en toe sy die vraag sien, het sy dadelik ja gesê.

Een van Schwarz se familielede, wat in Kanada bly, het hom in kennis gestel dat sy jawoord só groot is dat dit op Google Maps te sien is. As jy nou op hierdie skakel klik, dan behoort jy ook die land en die vraag in groot letters te sien.

Volgens die BBC het Schwarz glad nie geweet dat Google se karteringdiens ʼn foto van sy jawoord afgeneem het nie, en die feit dat dit nou wêreldwyd te sien is, maak dit soveel meer romanties.

Die woorde wat Tiaan ‘n jaar gelede so laat plant het (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig oor ʼn Vrystaatse mielie-en-boontjieboer wat ook die grootste opoffering gemaak het toe hy ʼn deel van sy mielieland prysgegee het om sy geliefde te vra om met hom te trou.

Tiaan de Wet het in 2019 sy meisie verras deur die woorde “trou met my” in die mielieland op die plaas Mooigelegen buite Kestell te vertoon tydens ʼn helikopterrit oor die plaas. Maar ten spyte daarvan dat die meeste mense gedink het hy het dié letters uit sy mielieland gesny, het hy eintlik al lánk voor die tyd die projek begin aanpak, want dié mielies is so geplant. Andrea Bierman het ook dadelik ja gesê en die twee het in Augustus verlede jaar getrou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adriaan ·

Dis nou ‘n smart ou!!
Mag die Here hulle huwelik seen!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.