Kiss gaan vir die haaie speel

Die musiekgroep Kiss. Voor v.l.n.r. is Gene Simmons, Tommy Thayer en Paul Stanley. Eric Singer is in die agtergrond op die dromme (29 Augustus 2019) (Foto: Amy Harris/Invision/AP, File)

In hul musiekloopbaan van byna 50 jaar het die rockgroep Kiss al byna oral ter wêreld opgetree en nou beplan hulle ʼn onderwater opvoering – spesiaal vir grootwithaaie en agt aanhangers.

As deel van ʼn promosieveldtog deur Airbnb sal die aanhangers en Kiss op 18 November in afsonderlike bote van die suidelike kus van Australië vertrek. Kiss sal aan boord bly en die aanhangers sal in ʼn klein duikboot onder water geneem word in ʼn gebied wat bekend is vir haai-aktiwiteit.

Kiss sal van onderwater luidsprekers gebruik maak en minstens vier liedjies speel. Die klank sal dus vir die haaie en aanhangers hoorbaar wees.

“Ek was verbaas [oor die uitnodiging], maar hulle het verduidelik dat haaie aangetrek word deur lae frekwensies – so hulle sal aangetrek word deur rock n roll,” het sanger en kitaarspeler Paul Stanley aan die Associated Press gesê. “Aangesien ons in Australië gaan wees, gee dit ʼn nuwe betekenis aan ʼn konsert down under.”

Die geleentheid kos $50 en kaartjies word aan die eerste persone wat aansoek doen, toegeken. Dit is sowat die helfte van die prys vir ʼn gewone Kiss-konsert en die wins sal aan ʼn liefdadigheidsorganisasie geskenk word. Kaartjies is vanaf 18:00 EDT op 14 Oktober 2019 beskikbaar by airbnb.com/KISS

Kiss sal ten volle grimeer wees en volledig in hul kenmerkende kostuums optree.

“Ek is nie seker hoeveel liedjies die haaie sal kan hanteer nie,” het Stanley geskerts. “Ek hoop hulle ken ‘Rock n Roll All Nite’.”

Gene Simmons, baskitaarspeler vir Kiss, het onlangs herstel ná nierstene verwyder is. Volgens Stanley sal hy dus ook gereed wees om vir die haaie op te tree.

Die geleentheid is deel van Airbnb Animal Experiences, en is só ontwerp dat mense die diere vermaak, in plaas van andersom, het die maatskappy in ʼn persverklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Moreel Hoog ·

Dís nou vir jou ‘n voortreflike groep christelike “musikante” daardie, bekend vir hulle christelike siening. Waarlik iets om te promoveer, nê. Viva rugby.

Cybersakkie ·

Nee, anders was dit KISoS.
Waarvoor staan GOD dan, Great Orange Demon? Nee man, dis nie baie intelligent nie, jy kan enige woord vat en se dit staan vir dat.

M ·

Ai ou Cybersakkie. Duidelik weet jy nie wat om jou aangaan nie. Skrik wakker

Andre ·

Die arme visse gaan na dese aan ” string – shock” ly…. en nooit weer die selfde wees nie.

Derick ·

Laat hulle maar eerder vir die Stormers gaan speel ………

Koos ·

Hulle musiek is baie swak en daar is baie beter bands….arme haaie!

Vonkprop ·

Julle kan nou maar aftree. Duidelik is julle nie meer gewild nie so nou moet julle planne maak om nog erken te word. Ten minste het julle darem nog julle 8 aanhangers. Sê haai vir al die Suid Afrikaners daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.