Ma eis vergoeding ná oppasser vegetariese kinders hoenderhappies gee

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

ʼn 19-jarige kinderoppasser weier om “emosionele ondersteuningsgeld” aan ʼn vegetariese ma te betaal nadat die oppasser hoender as maaltyd vir die vrou se kinders gegee het.

Die gesin het die oppasser onlangs genader om hul negejarige seun en sewejarige dogter op te pas. Volgens die vrou het die kinders hulself goed gedra en toe hulle vir ʼn Happy Meal-maaltyd met gekrummelde hoenderstukkies by die kitskoseetplek McDonald’s vra, het sy besluit om hul goeie gedrag te beloon.

Nóg die kinders nóg hul ouers het ʼn woord gerep dat die gesin vegetariërs is, berig die Mirror.

Die oppasser het die gebeure nou op Reddit verduidelik.

“Die ma het vroeg tuisgekom en gesien dat haar kinders hoender eet. Sy het dit uit hul hande geruk en begin skreeu dat ek aaklig is omdat ek haar kinders toelaat om die lyke van diere te eet. Sy het ook op haar kinders geskree omdat hulle vleis geëet het.”

Die ma het glo die oppasser uit die huis geskop sonder om haar te betaal en toe later geëis dat sy $300 per kind (sowat R9 200) moet betaal vir die beweerde emosionele skade wat sy veroorsaak het. Die ma het ook gedreig om die oppasser hof toe te sleep indien sy nie opdok nie.

Die oppasser sê haar pa en broer is albei prokureurs en sy skrik nie vir dié dreigement nie.

“Ek het geweier om die geld te betaal en vir haar gesê sy moes my vooraf laat weet het dat hulle vegetariërs is.”

Die oppasser hou vol die voorval was nie haar skuld nie.

“As ek daarvan geweet het, sou ek die gesin se dieetkeuse heeltemal gerespekteer het. Die ma het gesê ek moenie aanneem dat almal vleis eet nie.”

Sosialemediagebruikers het dadelik ingespring en die oppasser se hantering van die situasie geloof.

“Gee haar kontakinligting aan jou prokureurs en vra haar wanneer jy betaling kan verwag en of julle dit ook in die hof moet skik,” skryf een gebruiker.

ʼn Ander een meen dat die ma dieselfde ding moontlik al vantevore gedoen het sodat sy nie die oppasser hoef te betaal nie.

“Dit is vreemd dat die kinders nie genoem het dat hulle nie vleis eet nie,” het ander gebruikers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Vonnie ·

die arme kinders het seker gesmag na ‘n vleisie, al was dit net ‘n mc donalds happy meal!!

Lee ·

Hierdie Ma klink vir my of sy n paar varkies weg het – Arme kinders.

Anoniem ·

Vriend van my se dogter het nou die naweek geweier om ‘n groente worsie te eet wat ek op dieselfde rooster as die vleis gebraai het. Kon my lag nie inhou nie.

Sandra ·

Dit grief my dat mense wat ‘n vegetarier leefwyse aanneem, dit ook op hulle kinders afdwing. Kinders moet mos hulle eie besluite neem wanneer hulle oud genoeg is om te kies. Ek dink ook die vrou beplan moontlik die goed. Wat hier teen die ma tel is die feit dat die kinders seker so uitgehonger is vir iets wat nie kelp of groente bevat nie, dat hulle die oppasser gevra het vir die hoender. Case closed.

Niklaas ·

Baie gemene en slinkse set van die moeder . Laat sulke voorvalle telkens plaasvind en gaan skuimbekkend te kere , dreig met hofsake ens en dus hoef die arme oppasser nie betaal te word nie. Herhaal dit elke week en spaar sakke vol geld so. Vreeslik slim.

Eend Bessinger ·

Daardie ma wat haar smake op haar kinders afdruk het ‘n sielkundige nodig! Tog is die oppasser reg: sy is nooit ingelig en daarom sal sy onnosel kan pleit op daardie aanklagte.

Rudolph ·

Wat van karniste wat hulle wil om diere te mishandel en dood te maak op hulle kinders afdwing

tweeling ·

Ek dink die oppasser moet die ma dagvaar vir emosionele skade. Dis darem lekker om vars en gevriesde lyke van diere te eet, veral dele van die lyke wat gedroog is soos biltong, water my mond nou.

H ·

vegitariers umm ja , ek weet nie ….. daai ouers moet gedagvaar word omdat hulle hul kinders van lekker kos weg vat :) daars mos nou niks lekkerder as n lekker med to rare stuk steak nie…… yumyum

Stof ·

Is die vegetariese leefstyl die kinders se vrye keuse? Mmmmm…

koos ·

Hierdie mamma se happy meal is definitief ‘n paar tjips kort

LANA is ELANè ·

Is dit nie belaglik verby nie❓ Ek weet beslis waarheen ek die vrou, besem en al, sou stuur‼️

Karina ·

Van sulke gekkigheid het ek nog nie gehoor nie. Stem saam met julle opmerkings.

Martie ·

Ag nee dit is belaglik, laat hulle vleis eet as hulle wil!

Rudolph ·

Om vir ‘n dierevriendelike persoon diereliggaamsdele te voer is erger as om vir ‘n Jood of Moslem varkvleis te voer. Die Jood of Moslem sê hy mag dit nie eet nie omdat ‘n hoër gesag dit vir hom besluit het. Die dierevriendelike persoon sê hy wil dit nie eet nie omdat dit vir hom immoreel en oneties is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.