Man gered wat dae lank teen beer baklei

ʼn Afgeleë kamp naby Nome, Alaska waar die slagoffer van die beeraanval op 16 Julie 2021 gered is (Foto: USCGAlaska)

‘n Man wat vir ʼn week lank aanvalle van ʼn grizzlybeer in die Alaska-wildernis afgeweer het, herstel van sy beserings ná hy in ʼn kamp vasgekeer is, het die Amerikaanse Kuswag gesê.

Lugbemanning het verlede week Vrydag ʼn “SOS”-teken op die dak van ʼn hut opgemerk tydens ʼn roetine helikoptervlug oor die westelike deel van die Alaska-kus. Dit is eers toe die helikopter omgedraai het om die boodskap te ondersoek dat hulle die man opgemerk het wat met sy twee arms in die lug staan en waai het.

“Dié gebaar is ʼn internasionale teken vir iemand wat in die moeilikheid is,” lui ʼn verklaring deur die Kuswag. “Die span het geland en kontak gemaak met die man. Hy het mediese behandeling nodig gehad nadat hy ʼn paar dae vantevore deur ʼn beer aangeval is.”

ʼn Afgeleë kamp naby Nome, Alaska waar die slagoffer van die beeraanval op 16 Julie 2021 gered is (Foto: USCGAlaska)

Die man het ʼn besering aan sy been opgedoen en kneusplekke aan sy lyf. Hy het gesê die beer het hom geteister en vir ʼn week lank glo elke aand na die man se kamp teruggekeer.

Die Kuswag het die man na die nabygeleë dorp Nome geneem waar hy behandeling vir sy beserings ontvang het.

Die man is vroeër deur sy vriende as vermis aangemeld toe hy nie teruggekeer het nie.

‘n Grizzlybeer (Foto: Bobisbob via Wikimedia Commons)

Die grizzlybeer of grysbeer (Ursus arctos horribilis) is ‘n subspesie van die bruinbeer wat in Noord-Amerika voorkom. Grizzlybere kan tot 600 kg weeg. As die bere op hul agterpote staan, kan hulle ‘n hoogte van 3 meter bereik. As die bere met rus gelaat word, is hulle normaalweg nie ‘n bedreiging vir mense nie. As iemand wel aangeval word, is dit raadsaam om roerloos te bly lê sodat die beer dink dat sy prooi dood is, of ten minste nie meer ‘n bedreiging inhou nie. Dit help nie om terug te veg nie. Dit is ook onwys om weg te hardloop, omdat hulle vinniger as mense is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.