Man gou vas toe bakkery verdagte se foto op koekies weggee

Die koekies met die verdagte se foto daarop (Foto: Canfora Bakery/Facebook)

ʼn Bakery in Milwaukee in Wisconsin in die VSA het met ʼn slim plan vorendag gekom om ʼn verdagte te identifiseer ná daar by hulle ingebreek is.

Die eienaars van Canfora Bakery, Eric en Karen Krieg, het beeldmateriaal nagegaan ná hulle op 19 April van kontant en toerusting besteel is. Hulle het ʼn foto van die verdagte gevind en dit op sowat 100 koekies laat druk.

Volgens die Milwaukee Journal Sentinel het ʼn man omstreeks middernag op 19 April by die winkel ingebreek en kontant uit die kasregister gesteel. Die eienaars het besluit om die publiek se hulp in te roep om die man te identifiseer.

“Ons het gedink ons sal kyk of die gemeenskap hom dalk kan uitken,” het Karen gesê. Hulle het ʼn foto van die verdagte op eetbare papier laat druk en toe op die talle koekies geplaas wat gratis aan klante en plaaslike inwoners uitgedeel is. Die foto’s is ook op Facebook gedeel. Die plasing was baie gewild op sosiale media. “Wat ʼn wonderlike idee!” het een persoon in die kommentaar geskryf. “Ek hoop hy word gou gevind.”

Binne ure ná hulle die plasing op Facebook gedeel het, het die Canfora-bakkery wenke begin ontvang. In ʼn opvolgplasing wat hulle ʼn week later gedeel het, het hulle aangekondig die man is gevind.

Die polisie in Milwaukee het ook bevestig ʼn 45-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die voorval.

Sunday May 2nd, Come Take a Bite Out Of Crime at Canfora Bakery!The bakery was robbed of cash and equipment on Monday…

Posted by Canfora Bakery on Saturday, May 1, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lourens CFG ·

Mmmmmmm, “a cooky a day keeps burglars away”?
;-()

Misky ·

Dis ‘n briljante idee en kan dink hoeveel mense sal op sosiale media plaas. Probleem is net ons so baie kriminele en sal derduisende koekies wees wat gebak moet word

koos ·

Hier in SA – bak eerder koekies met die wetsgehoorsame burgers se foto’s op. Sal minder kos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.