Man vat sy goudvissies vir ʼn stappie

Jerry Huang by sy goudvis-stootwaentjie in Taichung, Taiwan (19 Mei 2022) (Foto: Sam Yeh/AFP)

Jerry Huang van Taiwan se vissies voel selde of hulle maar net in ʼn visbak moet rondswem, want hulle word gereeld vir ʼn stappie gevat.

Huang word gereeld opgemerk in die strate van Taichung waar hy sy jongste uitvinding rondstoot: ʼn goudvisbak op wiele.

“In die verlede het mense met hul honde en katte gaan stap. Nou kan hulle met hul papegaaie gaan stap, ook slange en akkedisse!” sê die 31-jarige aan AFP. Hy het gewonder: “Is daar ʼn kans dat onderwater kreature ook die grond bo die water sou kon geniet?”

Huang is ʼn hommeltuig-fotograaf en verdien geld deur inhoud op sy YouTube-kanaal. Ná hy weke lank in sy werkswinkel met die ontwerp gespeel het, is die goudvis-stootwaentjie uiteindelik in ʼn paar dae gemaak.

Die kontrepsie is ʼn groot akrielsilinder met water waar die visse kan bly, gekombineer met ʼn battery-aangedrewe filtreer- en suurstofstelsel bo-op ʼn spesiale waentjie.

“Ek het baie navorsing gedoen voor ek die vistenk gemaak het. Dis nie iets wat net op die ingewing van die oomblik gebeur het nie. Mens moet visse verstaan,” voeg hy by.

Hy het besluit dat goudvisse, wat redelik taai is en nie verskriklik skrikkerig is vir mense nie, die beste proefkonyne sou wees. Hy is oortuig sy goudvisse geniet hul avonture.

“Ons het almal die behoefte om verdere ontdekkings te maak; om eksotiese wêrelde te betree – dis hoekom ons ruimteskepe na die heelal stuur,” meen hy. “As ek ʼn goudvis was, sou ek beslis opgewonde gewees het as iemand iets vir my ontwerp het waarmee ek ander wêrelde kon leer ken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sandra ·

As ek reg onthou, is goudvisse baie intelligent. So ek hoop hulle geniet hulle uitstappie ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.