Man vind yslike diamant in park

Foto: Diamantkrater-park in Arkansas

ʼn Man wat vroeër vandeesmaand die Diamantkrater-park in Arkansas in die VSA besoek het, was onder die indruk hy het ʼn stukkie glas opgetel. Dit was egter die tweede grootste diamant wat ooit in die park gevind is.

Kevin Kinard (33), ʼn bankbestuurder van Maumelle, het op 7 September die Diamantkrater-park besoek, soos wat hy al talle kere vantevore gedoen het. Hy het nog nooit vantevore ʼn diamant opgetel nie, maar dié keer was hy gelukkig.

Volgens ʼn persverklaring deur die park het Kinard en sy vriende toerusting gebring om na diamante te soek, en hy het op die oppervlak gesoek. “Ek het op en af deur die rye geloop. Enigiets wat soos ʼn kristal gelyk het, het ek opgetel en in my sak gedruk,” het hy aan die park gesê.

Hy het tydens sy soektog op ʼn kristal, so groot soos ʼn albaster, afgekom en hy het gedink dit is net ʼn stukkie glas. “Dit het interessant gelyk en dit het geblink, so ek het dit in my sak gedruk en verder bly soek. Ek het gedink dit is sommer net ʼn stukkie glas.”

Ná ʼn paar uur se soek het die groep teruggekeer en Kinard het byna nie die inhoud in sy sak laat deursoek nie. Dit was eers toe sy vriend teruggekeer het om sy sak te deursoek, dat hy haar agtervolg en owerhede gevra het om ook na sy inhoud te kyk.

Kevin Kinard (Foto: Diamantkrater-park in Arkansas)

Hulle het hom na ʼn privaat kamer geneem ná ʼn beampte sy klippe en minerale ondersoek het. Kinard het gehoor die voorwerp, wat hy opgetel het, is ʼn diamant van 9,07 karaat – die tweede grootste diamant ooit wat by dié park opgetel is.

Volgens Good Morning America was die grootste diamant ooit 16 karaat en dit is in 1975 opgetel.

“Ek het trane in my oë gekry toe hulle dit vir my sê. Ek was in algehele skok!” het Kinard bygevoeg.

Volgens adjunk-superintendent Dru Edmonds is Kinard se diamant baie groot en brandewyn-kleurig. “Dit het ʼn geronde, traandruppel-vorm en ʼn metaalskyn wat tipies is van alle kraterdiamante.”

Die diamant staan nou bekend as die Kinard Friendship Diamond. Hy het raad aan enigiemand wat ooit die Diamantkrater-park besoek: “Maak seker die personeel gaan alles na, want mens weet nooit! Ek sou in ʼn miljoen jaar nie kon droom dat ek enigiets sou kry nie. Maak seker hulle kyk na alles!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mieke ·

Nou wonder ek uit nuuskierigheid hoeveel daardie diamant werd is en of hy die al geld daarvan gaan kry!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.