Nagmerrie! Spinnekoppe droom glo ook

Argieffoto (Foto: David Mark/Pixabay)

Jy het dalk al gesien hoe ʼn slapende hond sy bene skop, asof hy besig is om te hardloop. Spinnekoppe doen glo dieselfde ding – aldus ʼn nuwe studie.

Dit is die eerste aanduiding dat spinnekoppe ook moontlik droom. Daniela Roessler, ʼn nadoktorale student by Konstanz, ʼn Duitse universiteit, het infrarooi kameras op slapende spinnekoppe gerig.

Uit die beeldmateriaal is dit duidelik dat die spinnekoppe spiertrekkings beleef wanneer hulle slaap tesame met bewyse van REM-slaap (die slaapfase wat met drome verbind word).

Die klein spinnekoppe, wat deursigtige koppe het, bied ʼn uitstekende sig van hul oogballe. Die vinnige bewegings dui dat hulle oogbewegings ervaar, kenmerkend aan REM-slaap, berig die Wall Street Journal.

“Toe ek die rukbewegings vir die eerste keer opgemerk het, was ek verstom. Dit lyk presies soos wanneer katte of honde slaap,” het Roessler, hoofouteur van die studie wat Maandag in Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is, gesê. “Dit is al voorheen opgemerk in gewerwelde diere, maar nog nooit in spinagtige diere nie,” aldus die National Geographic.

Paul Shaw, ʼn professor van neurowetenskappe aan die Washington University School of Medicine, wat nie by die navorsing betrokke was nie, sê die bevinding “vergroot die getal en tipe diere wat hierdie menslike toestand beleef”. Volgens hom verander dit ook “die landskap van wanneer REM ontwikkel het”, aldus die Journal.

Net soos mense wil dit voorkom of die spinnekoppe verskillende REM-slaapfases beleef. Dit het elke 20 minute plaasgevind en sowat 77 sekondes lank geduur, berig die National Geographic.

“Ek dink hulle droom, maar dit gaan iets heeltemal anders wees om dit wetenskaplik te probeer bewys,” het Roessler aan die Journal gesê. Sy sê dit is baie moeilik om die aktiwiteit in spinnekoppe se breins te meet, want dit is maar so groot soos papawersaad. Toekomstige navorsing sal egter spinnekoppe se oogbewegings tydens REM-slaap vergelyk met wanneer hulle wakker is. As dieselfde patroon opgemerk word wanneer ʼn spinnekop byvoorbeeld ʼn vlieg vang as tydens REM-slaap, is dit moontlik dat die spinnekop van daardie aktiwiteit droom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KatjieDeKat ·

Ag moeder! Springspinnekoppies is die cuteste goedjies op aarde! Ek wil al vir lankal n kamera en lens koop spesifiek met net een doel, om makro fotos van hulle te neem. Wel ek sal dit natuurlik vir ander dinge ook gebruik maar die eintlike doel is om Jumpies te fotografeer. Die ou gesiggies. And those adorable little hairstyles! Ek verkneukel myself behoorlik aan hulle cute-geit. In die somer lewe daar altyd n paar agter my kopkussings, teen die muur. Weet julle, dat hulle met mekaar speel, soos katjies of hondjies? Met my eie oë dit gesien. Aan die ander kant vd skaal, is bobbejaan spinnekoppe nogal manjifiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.