Peppa Pig laat VSA-kinders met Britse aksente praat

Peppa Pig en George (Foto: PeppaPig.com)

Amerikaanse kinders het glo frases soos “give it a go” en “telly” opgetel en sê nou “mummy” in plaas van “mommy” ná hulle tydens die pandemie in afsondering was en al hoe meer episodes van Peppa Pig gekyk het.

Volgens ʼn verslag sê ouers hul kinders se spraakpatrone het beslis verander ná hulle ʼn jaar lank na die Britse tekenprent gekyk het. Ouers het aan die Wall Street Journal gesê hul kinders praat nou ook van “Father Christmas” (in plaas van “Santa Claus”) en gebruik allerhande Britse uitdrukkings.

Peppa Pig was glo die tweede mees gekykte tekenprent in die VSA naas Spongebob Squarepants vir die 12 maande periode wat in Februarie tot ʼn einde gekom het, aldus kykergetalle van Parrot Analytics.

Matias Cavallin, ʼn pa van Kalifornië, sê sy vyfjarige dogter Dani sê nou goed soos: “Mummy, are you going to the optician?”

Lauren Ouelette van Rhode Island sê haar sesjarige verwys na die badkamer as ʼn “water closet”. “Ek het gewonder waar sy daaraan sou kom en of sy dalk in ʼn vorige lewe op die Titanic was!”

Entertainment One, die maatskappy wat Peppa Pig vervaardig, het aan die koerant gesê jong kykers beskou Peppa as ʼn vriendin. “Net soos wat ons met vriende doen na wie ons opkyk, tel hulle van haar karaktereienskappe op.”

Dit is nie die eerste keer wat Amerikaners beweer hul kinders praat “Brits” ná hulle na die geliefde pratende varkie gekyk het nie. Selfs voor die pandemie het ouers aangevoer hul kinders het ʼn effense Britse aksent.

Taalkenners en linguiste sê egter kinders praat waarskynlik net soos papegaaie agter die karakters aan, eerder dat hulle behoorlike Britse aksente aanleer. Dr. Susanna Levi, ʼn medeprofessor van kommunikasiewettenskappe aan die New York-universiteit, het in 2019 aan The Guardian gesê kinders se aksente word gewoonlik gevorm deur die gemeenskappe waarin hulle verkeer. Sy het die voorbeeld gebruik van kleuters van Britse ouers wat in Texas grootword – wat waarskynlik mettertyd ʼn Amerikaanse aksent sal aanleer. Sy sê dit is egter moontlik dat kinders leer om spesifieke woorde te na-aap in ʼn aksent anders as hul eie. Hulle leer dalk Peppa se spesifieke klinkerklanke aan vir ʼn woord wat hulle nog nie in hul eie aksent gehoor het nie, soos “tomah-to” of “zeh-bra”.

Dr. Lisa Davidson, ʼn professor en voorsitter van linguistiek aan dieselfde universiteit, sê dit is moontlik dat nuuskierige kinders ook net die fiktiewe varkie se aksent namaak omdat hulle daarvan hou. “Kinders op daardie ouderdom is beslis bewus van verskille en kan dit namaak.”

En ouers weet al te goed: kinders is baie goed daarmee om gedrag op te merk. Volgens ʼn vorige verslag het Amerikaanse ouers opgemerk hul klein Peppa-aanhangers begin ook om snorkgeluidjies te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

My kleinkinders praat Engels met ‘n Amerikaanse aksent agv Amerikaanse tv speletjies.

Natasha ·

Persoonlik is ek gaande oor Britse se aksent en sê goed. Daar is baie erger dinge om oor bekommerd te wees as Peppa Pig!

Belinda ·

kan net die amerikaanse kinders hoor ” do you fancy a cuppa?” lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.