Pikkewyn pronk met goudgeel gewaad

(Foto: Kennedy News and Media/Yves Adams)

ʼn Natuurfotograaf het op ʼn seldsame verskynsel afgekom toe hy in Desember 2019 koningpikkewyne in die Suid-Atlantiese Oseaan afgeneem het.

“Een van die pikkewyne het regtig vreemd gelyk, en toe ek van nader kyk, sien ek dat dit geel is!” sê Yves Adams, wat onlangs foto’s van hierdie pikkewyn op sosiale media gedeel het. Hy was op ʼn twee maande lange ekspedisie deur dié oseaan. Koningpikkewyne is gewoonlik geel, wit en swart.

“Terwyl ons die rubberbote op ʼn afgeleë strand in Suid-Georgia uitgepak het, het hierdie geel koningpikkewyn in ons rigting aangestap gekom. Dít tussen die see van Antarktiese pelsrobbe, see-olifante en duisende ander koningpikkewyne,” skryf Adams op ʼn Instagram-plasing.

Media wêreldwyd het intussen oor Adams se foto’s berig.

Volgens Live Science is die geelkleurige pikkewyn die enigste van sy soort tussen 120 000 ander koningpikkewyne. Hierdie pikkewynspesie het gewoonlik wit en swart vere met geel om hul nekke wat hulle die kenmerkende tuxedo-voorkoms gee. Die geel pikkewyn het egter nie swart vere nie en Adams glo dis as gevolg van ʼn toestand genaamd leukisme, waar melanien gedeeltelik verlore gaan.

Navorsers het intussen die werklike rede vir dié verskynsel bevraagteken. Dee Boersma, ʼn bewaringsbioloog wat nie deel van die ekspedisie was nie, stem saam met Adams dat dit moontlik leukisme is en nie albinisme nie. Kevin McGraw, ʼn integrerende gedragsekoloog aan die Arizona State University, is egter van mening dat die pikkewyn se vere eers ontleed moet word aangesien dit lyk asof hy geen melanien het nie, en dus albinisme kan hê.

Hoewel die suurlemoenkleurige pikkewyn indrukwekkend is, is dit nie die eerste keer dat ʼn pikkewyn met vreemde vere opgemerk is nie, berig National Geographic.

In Maart 2019 is ʼn pikkewyn deur Jeff Mauritzen afgeneem tydens ʼn ekspedisie op St. Andrewsbaai in Suid-Georgia. In plaas daarvan dat die pikkewyn swart was, het hy ʼn unieke ligbruin kleur gehad. Dit is moontlik as gevolg van ʼn genetiese mutasie wat die vervaardiging van swart, grys en bruin vere beïnvloed, het Hein van Grouw, ʼn voëlkundige, destyds aan National Geographic gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Aikie ·

Dit wil vir my lyk soos albinisme, want ek het ingezoem en die oog lyk of dit pienk is. Gewoonlik ‘n teken van geen melanien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.