Só vra jy om verskoning as jy op hond se poot trap

Argieffoto (Foto: Yama Zsuzsanna Márkus/Pixabay)

ʼn Groep wetenskaplikes wat bestudeer hoe honde op menslike taal reageer, het ontdek wat die beste manier is om vir jou troeteldier om verskoning te vra wanneer jy per ongeluk op hulle poot of stert trap.

Volgens ʼn studie in Animal Cognition help dit wanneer mens in ʼn “babastem” – ook bekend as “hondgerigte spraak” of DDS met hulle gesels om hulle rustig te maak.

Die span het 37 honde van vrywilligers bestudeer. Daar is met sommige honde in ʼn normale stem gepraat en met ander in ʼn babastem. Die honde het baie langer aandag gegee wanneer daar met hulle in ʼn babastem gepraat is.

“Oor die algemeen het die uitslag van die studie bepaal dat natuurlike DDS – wat bestaan uit hondgerigte spraakpatrone en woorde wat op honde betrekking het – meer aandag getrek het by honde en dat dit die band tussen mens en troeteldier kan versterk.”

Benewens om verskoning te vra vir jou troeteldier in ʼn sagte stem, moet jy ook die poot of stert nagaan vir moontlike beserings en 10 minute lank ys daarop plaas as dit rooi is of opswel.

Nog ʼn studie, wat in die Royal Society gepubliseer is, voer aan dat honde die vermoë het om mense se bedoelings te verstaan gebaseer op hul emosionele reaksie. Dit beteken dat hulle sal verstaan dat iets net ʼn ongeluk was, en dat mens nie doelbewus besig was om hulle seer te maak nie.

“Die persepsie van emosionele uitdrukkings laat diere toe om die sosiale bedoeling en motivering te evalueer,” aldus die studie. “Dit vind gewoonlik binne ʼn spesie plaas, maar in die geval van honde, as troeteldiere, is dit moontlik dat hulle mense se emosies en ander honde se emosies kan herken.”

Die navorsers het mense en honde gebruik met verskillende emosies (gelukkig/speelvol teenoor kwaad/aggressief) tesame met ʼn enkele vokalisering van dieselfde individu met ʼn positiewe of negatiewe valensie. “Die honde het baie langer na die gesig gestaar waar die klank met die uitdrukking ooreengestem het. Dit is ʼn vermoë wat vroeër slegs met die mens verbind kon word.”

Dit wys dat honde emosionele inligting kan aflei en die verskil kan uitken tussen positiewe en negatiewe emosies van honde en mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Honde is wel meesters as dit by liggaamstaal ensovoorts kom. Hulle hou jou baie fyn dop, dis verseker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.