Twitter help bruid toe oorstromings haar troue bedreig

Kate Fotheringham en haar man, Wayne Bell (Foto: Kate Fotheringham/Twitter)

“Dis my troudag en ons is vasgekeer deur vloedwater! Ons het hulp nodig om oor die oorstroomde spruit by Wingham uit te kom,” het Kate Fotheringham Vrydag op Twitter geskryf.

Sy het haar verloofde belowe dat sy nie laat sal wees vir hulle troue nie, maar sy het nie besef dat ʼn stortreën deurnag tot katastrofiese vloede en oorstromings aan Australië se ooskus sal lei nie.

Fotheringham het Saterdagoggend wakker geword en gesien vloedwater het haar in haar ouers se huis net buite Wingham in New South Wales vasgekeer, berig Yahoo News.

Dit was vinnig duidelik dat die voornemende bruid nie by haar trouvenue sou kon uitkom nie. Vasbeslote om nie toe te laat dat die natuurlike ramp haar spesiale dag verongeluk nie, het Fotheringham, ʼn voormalige joernalis, by Twitter aangeklop vir hulp.

“Kan enigiemand help?” wou sy weet.

Sy het aan The Guardian gesê sy het bietjie gehuil en was angstig – “dit was nie meer snaaks nie”. “En toe het ek ook gesê: ons sal dit net moet hanteer.”

Gelukkig vir haar het hulp opgedaag. ʼn Plaaslike televisiestasie het haar gekontak en ʼn helikopter aangebied om haar te red – hulp wat die bekommerde bruid met albei hande aangegryp het. ʼn Helikopter van Affinity Helicopters het kort daarna opgedaag en haar in haar trourok oor die oorstroomde spruit gevlieg en 5 km verder op die skougronde in Wingham geland.

Weens die oorstromings was haar spysenier, grimeringskunstenaar en musikant ook in verskeie dele vasgekeer. Wonderbaarlik het ʼn ander spysenieringsmaatskappy, wat ook nie by ʼn ander troue kon uitkom nie, aangebied om die kos vir haar troue te verskaf. Haar gevolg het hul eie grimering hanteer en uiteindelik was mej. Fotheringham net 15 minute laat vir die seremonie.

“Ek het die kerk gehaal en met die liefde van my lewe getrou!” het sy later op Twitter bevestig met ʼn foto wat intussen wyd op sosiale media gedeel word.

Maroela Media het vroeër berig die vloede wat die Australiese ooskus die afgelope naweek getref het, word beskou as die ergste vloede in meer as 50 jaar in dié gedeelte van die land. Duisende inwoners is reeds na veiligheid gebring en weerkundiges voorspel dat swaar reën nog vir ʼn paar dae sal voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Sjoe en dit het n mooi foto opgelewer en hulle sal die groot dag beslis NOOIT vergeet nie

anniekiewiet ·

Pragtig! Dis lekker om vroegoggend sulke positiewe berigte te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.