Vermiste poolhond gevind waar hy met bere speel

Skermgreep uit die video

ʼn Hommeltuig-soektog na ʼn vermiste poolhond in Kamtsjatka, Rusland, het ʼn verrassende wending geneem toe die dier saam met ʼn groep wilde bruinbere opgespoor is.

Dit is nie bekend wanneer die beeldmateriaal verfilm is nie, maar dit is tans baie gewild op sosiale media. Die hond hardloop agter die bere aan en hardloop opgewonde in sirkels om hulle.

Dit lyk of een beer probeer om die hond weg te druk toe hy te naby kom, maar dit wil voorkom of daar nie enige gevaar is vir die hond nie.

Die video is reeds meer as 20 miljoen keer op Instagram gekyk.

“Mamma-beer aan Pappa-beer: Ek weet Junior het ʼn maatjie nodig, maar hierdie kind moet huis toe gaan,” skryf een persoon grappenderwys in die kommentaar.

“Daardie hond gaan soveel stories hê, sy vriende gaan hom nooit glo nie!” skryf nog iemand.

Een persoon verduidelik dat dit Kamtsjatka-Russiese bere is, nie grizzlybere nie, alhoewel hulle in dieselfde familie van bruinbere geklassifiseer word. “Kamtsjatka-bere is baie groter as grizzlybere. Hulle is byna so groot soos die grootste bere, die Kodiakbeer.”

“Mamma-beer was heeltemal te moeg om met haar welpies te stry oor ʼn nuwe familielid. Sy bevraagteken nou haar besluit,” skryf nog ʼn kyker.

Dit is nie bekend wat met die hond gebeur het en of hy uiteindelik na sy huis teruggekeer het of by sy nuwe maats gebly het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Die bere dink VIR SEKER … dis ‘n wolf hierdie, kom ons ignoreer dit maar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.