Video: Dieretuin sluit oor slang se ‘Houdini’-ontsnapping

Skermskoot uit die video

ʼn Dieretuin in Swede is gedeeltelik gesluit ná ʼn koningkobra oor die naweek ʼn indrukwekkende ontsnapping uitgevoer het. Personeel is Maandag steeds op soek na die giftige vabond.

Die slang, genaamd Sir Vas, het Saterdag deur ʼn lamp in die dak van ʼn terrarium ontsnap. Hy is vermoedelik iewers in die plafon.

Hy het slegs ʼn paar dae tevore by die dieretuin aangekom.

Die slang staan nou as Houdini bekend na die bekende ontsnappingskunstenaar, sê Jonas Wahlstrom, direkteur van die Skansen-akwarium.

Personeel het van meel gebruik gemaak om die slang se spoor te probeer volg en taai lokvalle is oral ontplooi. Spesiale kameras, wat ontwerp is om rioolpype te ondersoek, word ook ingespan om in elke hoekie na die slang te soek.

Die terrarium is al 15 jaar lank die tuiste van koningkobras, maar die nuwe inwoner het binne slegs ʼn paar dae ʼn ontsnaproete gevind, het Wahlstrom aan AFP gesê. “Hy is baie slim!”

Volgens hom het die slang ʼn voordeel bo vorige inwoners: personeel het onlangs ʼn lae-energie gloeilamp geïnstalleer. “Die ou lamp was baie warm, so die slange wou nie daar naby kom nie. Nou is dit glad nie warm nie, en die koningkobra het dit ontdek en sy kop langs die gloeilamp ingedruk en homself deurgewurm.”

ʼn Besoeker het die ontsnapping op video verfilm waar iemand in die agtergrond vra: “Is dit veilig om hier te wees?” ʼn Personeellid het kalm geantwoord: “Nee, maar ons werk daaraan.”

Die reptiel-afdeling is gevolglik ontruim en is gesluit totdat die ontsnapte aangekeer is.

Wahlstroom sê daar bestaan geen gevaar dat die slang na buite kan ontsnap nie. “Hy sal nie uitkom nie; dit is boonop ook só koud buite dat hy waarskynlik dadelik sal begin slaap.”

Hy benadruk koningkobras is gewoonlik baie kalm en dit is onwaarskynlik dat hy iemand sal aanval.

Koningkobras, oorspronklik van Suid- en Suidoos-Asië, is die wêreld se langste giftigste slang. ʼn Slangbyt kan noodlottig vir mense wees as dit nie behandel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

‘n Besoeker het dit verfilm? Hoekom het die werknemer nie toe dadelik vir die slang begin soek nie, siende dat hulle weet hoe hy uitgekom het. En hulle twyfel of hy na buite sal ontsnap? Ek wed jou hulle het nie gedink hy gaan verby die gloeilamp ontsnap nie. So wie weet wat hy nog in sy kop kan uitwerk. Slim slang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.