Video: Van Jhb na Kaapstad in ʼn Uber

(Foto: Skermgreep uit die video en Ulrike Mai/Pixabay)

As jy al ooit gewonder het of dit moontlik is om van Johannesburg na Kaapstad met ʼn Uber te ry, het die komediant Tsoanelo “Tsoanieskits” Moyo bewys mens kan dit inderdaad doen!

Volgens Moyo is dit die malste ding wat hy al ooit gedoen het. Twee van sy vriende het hom op die reis van 1 409,6 km vergesel.

Die drie mans wou die langste Uberrit ooit in Afrika onderneem.

Moyo en sy vriende het met hul derde versoek uiteindelik ʼn Uber-bestuurder, Darlington, gevind wat bereid was om Kaapstad toe te ry – mits hulle hom sou betaal.

“Ek kan nie glo ons doen dit nie, ek kan nie glo ons doen dit nie. Kom ons doen dit net,” sê Moyo in ʼn uur lange video wat hy oor die rit op YouTube gedeel het.

Tydens die reis het hulle in Bloemfontein stilgehou en WWE-skyfies gekoop. In dié pakkies skyfies het hulle geskenkbewyse gekry vir lugtyd. Hulle het ook op ʼn geskenkbewys vir R1 000 kontant afgekom wat hulle gebruik het om kos mee te koop. Die drie mans was verstom dat hulle só groot geskenk gekry het uit ‘n pakkie skyfies wat R5 kos.

Die rit was lank (ongeveer 16 ure) en hulle moes ‘n paar keer stilhou vir brandstof. Moyo het ook lekker gelag vir sy vriende wat deurmekaar geraak het met die verskil tussen ‘n dorp of stad en ‘n provinsie.

Die opgewondenheid het voortgeduur tydens die rit en Darlington het sy drie passasiers veilig tot in Kaapstad se middestad gebring.  Dit was die vier mans se eerste besoek aan die Moederstad.

Aangevuur deur die moontlikheid dat hulle die kans staan om R10 000 te wen, het Moyo en sy twee vriende – met hul aankoms in Kaapstad – dadelik die strate ingevaar op soek na nóg WWE-skyfies. Die drie het elkeen groot pakke van die skyfies gekoop en na bewering inderdaad R10 000 kontant gewen. Hulle het ʼn luukse motor gehuur en Tafelberg besoek.

Darlington het een aand oornag en die lang tog terug Gauteng toe alleen aangepak.

Moyo onthul aan die einde van die video dat die reis hulle R8 365 uit die sak gejaag het.

Die langste Uberrit ter wêreld is egter die YouTuber MrBeast wat in Oktober 2017 ʼn rit van Noord-Carolina na Kalifornië in die VSA aangepak het. Dit het ongeveer 40 ure lank geduur om die rit van 3 630 km af te lê. Dit het hom $5 500 (sowat R104 000) gekos. (Hierdie video volg heel onderaan die berig.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.