Vrou met langste naels knip hulle ná 28 jaar

Ayanna Williams (Foto: Guinness World Records)

Ayanna Williams van die VSA, Guinness-rekordhouer en bekend as die vrou met die langste naels, het die afgelope naweek haar naels afgeknip.

Dr. Allison Readinger van Trinity Vista Dermatology in Forth Worth, Texas moes ʼn elektriese slypmasjien gebruik om die lang naels af te knip ná dit vir ʼn laaste keer gemeet is, berig Guinness.

Ayanna, van Houston in Texas, het haar eie rekord verbeter vir langste naels (vrou) met ʼn nuwe lengte van 733,55 cm. Dit is die eerste keer wat die rekordhouer haar naels sedert die vroeë 1990’s geknip het. Dit was dus ʼn emosionele, bittersoet oomblik toe Ayanna uiteindelik van die naels ontslae geraak het.

“Ek groei my naels nou al ʼn paar dekades lank. Ek is gereed vir ʼn nuwe lewe. Ek weet ek gaan hulle mis, maar die tyd het aangebreek om van hulle ontslae te raak,” het sy gesê.

Sy het 28 jaar laas haar naels geknip en hulle het deel geword van wie sy is. Selfs as ʼn kind was sy altyd lief vir naels en naelkuns. Sy onthou hoe sy as kind haar ma gevra het om te kyk hoe lank haar naels is en of sy dit in verskillende kleure kon verf.

Ayanna Williams (Foto: Guinness World Records)

Ayanna het vir die eerste keer in 2017 erkenning ontvang vir haar lang naels en sy was een van die sterre wat in Guinness World Records 2018 verskyn het. In daardie stadium was haar naels 576,4 cm lank en sy het twee botteltjies naellak gebruik om haar naels te verf. ʼn Manikuur het sowat 20 uur lank geduur.

Die afgelope tyd moes sy drie of vier botteltjies naellak gebruik en ʼn paar dae opsy sit om die manikuur af te handel.

Sy het gesukkel om haar dag-tot-dag take af te handel met die lang naels en kon byvoorbeeld glad nie skottelgoed was of die bed opmaak nie.

“Ek moes baie, baie versigtig wees met my bewegings. Ek het gewoonlik reeds aan die volgende stap gedink wanneer ek iets doen, sodat ek nie myself beseer of my naels breek nie. Ek is opgewonde om my naels te sny, want ek sien uit na ʼn nuwe begin,” het sy gesê toe haar naels geknip is.

Ayanna sê sy het verskillende reaksies op straat gekry – maar meeste mense was positief en het haar ondersteun. “Ek het ʼn ding gehad wanneer kinders met my kom gesels en hulle wil hoor of dit my naels is. Dan vra ek, ‘hoe oud is jy?’ en as hulle sê, ‘ek is 10 of ek is sewe’, dan sê ek, ‘raai hoe oud is my naels? Hulle is 28 – 29 jaar oud! Hulle is ouer as jy!’.”

Ayanna Williams se naels (Foto: Guinness World Records)

Ayanna se naels sal nou bewaar word en uitgestal word by die Ripley’s Believe It or Not!-museum in Orlando, Florida. Sy is baie opgewonde hieroor.

“Dit gaan wonderlik wees. Dit sal wees asof ek na ʼn wasstandbeeld van myself gaan kyk, selfs al is dit net my naels. Ek kan nie wag om dit te sien nie. Ek gaan van oor tot oor glimlag. Net om daaraan te dink, is wonderlik.”

Alhoewel Ayanna se jongste meting haar vorige rekord verbeter het, is die rekord vir die langste naels ooit (vrou) nog steeds Lee Redmond (VSA) wat dit in 1979 begin groei het tot ʼn lengte van 8,65 m.

Ayanna sê sy sal weer haar naels laat groei, maar nie tot dieselfde lengte nie. “Met of sonder my naels, ek bly die koningin. My naels maak nie my nie, ek maak my naels!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Misky ·

Ag nee siesa en hoe gemaak met higiene? Bad en jouself was en soos Rentia sê, wat van badkamer toe gaan???? Ek het nou koue rillings reg deur my lyf

Adri ·

Ek gril my morsdood as sy naby my moet kom! ‘n Mens kan nie jou naels (of baard) groei nie; hulle groei vanself. Jy kan dit net laat groei.

Erika ·

Siesa Hoe kan jy jou hande dan oordentlik gebruik- .en nie te praat van basiese higiene nie Jiggie

isabelle ·

By gese ek kan nie eens my naels groei …akriel is die antw

Stof ·

En so kom die naels van hulle wat nie eers noemenswaardige naels het nie, toe sommer uit in hulle kommentaar…
En gou ‘n vinnige speletjie, net vir pret:
Ek sou graag wou hoor hoeveel lesers weet waarom my, en vele mense met dieselfde gawe, se linkerhand se neals altyd stomp afgesny is, maar ons regterhande se naels, op ongeveer vier na vyf milimeter gelos word. Kom ons kyk wie raai eerste reg.

Stof ·

Dankie vir ‘n goeie idee! Sal dit beslis probeer. Dit kan beslis ook werk. Maar die klank daarvan is steeds nie so soet op die oor soos ons tegniese rede nie…

Stof ·

Dankie vir idee. DIt kan beslis ook werk. Sal dit beslis probeer. Maar sal dit so soetklinkend wees soos die tegniese rede?

Vrijburger ·

Klink vir my net na ‘n verskoning om nie te werk nie.

Stof ·

Nee, die antwoord is iets meer kreatief, en beslis nie lui nie…

Rentia ·

Terloops Maroela, die foto is beslis nie cm nie. 7m is baie langer as wat die foto wys. 733mm ja…. ?

Mieke ·

Na al die jare van versigtig wees en ander tegnieke wat sy gebruik het om haarself te help aantrek ens., kos eet ens… Hoe gaan sy nou funksioneer? Ek hou my vingernaels net soos altyd: netjies, skoon en kort. Ek funksioneer heeltemaal effektief, dankie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.