Vrou nou verlief op selfoondief

Skermgreep uit die video

ʼn Vrou van Brasilië het verlief geraak op die man wat haar selfoon gesteel het. Die twee se bisarre liefdesverhaal maak opslae op sosiale media.

Die paartjie het hul romantiese verhaal in ʼn Twitter-video gedeel wat reeds meer as 235 000 keer gekyk is.

“Ek het in die straat afgeloop waar hy woon en ongelukkig is ek beroof,” het die vrou, wat as Emanuela geïdentifiseer is, gesê. Sy het meer inligting oor hul “eerste afspraak” gedeel tydens ʼn geleentheid in Brasilië, berig die New York Post.

Die onbekende dief sê in die video sy gevoelens vir die vrou het verander toe hy ʼn foto van haar op die selfoon gesien het.

“Ek was in ʼn moeilike situasie want ek het nie ʼn vrou gehad nie,” sê die man. “Toe sien ek haar foto op die selfoon, en ek het gedink, ‘wow, wat ʼn mooi brunet, mens sien nie só brunet elke dag nie’, en ek was spyt dat ek haar selfoon gesteel het.”

Die onderhoudvoerder vra grappenderderwys: “So jy het haar selfoon gesteel en toe haar hart?”

Die dief antwoord: “Presies.”

Volgens die dagblad is die twee al twee jaar lank in ʼn verhouding. Dit is nie duidelik of haar ouers tevrede is met ʼn kêrel wat eers hul dogter se selfoon gesteel het nie.

Die bisarre verhaal laat Twitter-gebruikers kopkrap. Sommige persone het gesê só onwaarskynlike liefdesverhaal kan slegs uit Brasilië kom. Ander het gedink dit is ʼn oulike verhaal en glo die liefde kan enige plek en onder enige omstandigheid blom.

“Liefde kan enigiets oorkom,” skryf een persoon. “Dit klink soos ʼn komedie, maar dit is die werklikheid … Brailië,” skryf ʼn ander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.