Vrou ril ná verrassing onder motorhandvatsel

(Foto: Christine Jones/Australian spider identification/Facebook)

ʼn Australiese vrou se angsbevange ervaring met ʼn spinnekop het sosialemediagebruikers aan die ril nadat sy foto’s van die voorval op Facebook geplaas het.

Christine Jones van Armidale in Nieu-Suid-Wallis het ʼn foto van ʼn misterieuse wese onder haar motorhandvatsel op ʼn Australiese spinnekop identifikasie-blad gepubliseer.

Wanneer mens egter van nader na die foto kyk, sien mens die harige bene en lyf van ʼn groot spinnekop, wat sedertdien as ʼn jagspinnekop geïdentifiseer is.

“Ek het eers gedink dit is harige ruspes. Ek gebruik al vir ʼn week lank nie my motor nie.”

Jones het in die plasings se kommentaar onthul dat sy in die laaste oomblik die spinnekop raakgesien het net voordat sy aan die handvatsel wou vat.

(Foto: Christine Jones/Australian spider identification/Facebook)

Talle sosialemediagebruikers het ook hul ervarings gedeel.

“Ek het een keer my brandstofklep oopgemaak sonder om te kyk. Ek het gevoel hoe iets teen my arm op hardloop, dit afgevee en toe gesien hoe ʼn jagspinnekop onder my motor in hardloop,” skryf een gebruiker.

Ander gebruikers was egter so bang, hulle kon nie help om net te lag nie.

“Ek hou van spinnekoppe, maar ek is seker ek sal nuwe onderklere nodig hê as ek onbewustelik my hand daar indruk,” lag een.

ʼn Ander een het gegrap dat dit nie meer Jones se motor is nie en dat dit nou aan ʼn nuwe eienaar behoort. “Jy kan netsowel die sleutels oorhandig.”

“Hierdie storie het my nou baie angstig gemaak,” het ʼn ander gebruiker laat hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ietsanders ·

Jare gelede was my nuwe man en ek oppad kerk toe, toe hy die sonblinder aftrek teen die son. ‘n Yslike spinnekop val op sy skoot!! Tot vandag toe weet ek nie hoe hy die motor so vinnig kon stop en uitspring nie!! Ek gril my dood vir die goed. Die kinders het dikwels die spinnekoppe half bedwelmd van gif op die graaf gelaai en my daarmee gejaag……stoute goed, hulle het nie daardie aand poeding gekry nie!! Hehe!

Nella ·

Ek het ook een keer my sonskerm laat sak toe heer/dame spinnekop op my skoot val. Ek het uit die kar gespring in die ry. Nie handrem opgetrek, rem getrap of my kar afgeskakel nie. Gelukkig het ek nie vinnig gery, skaars weggetrek (30km/h). My dogter, toe graad 6 het die handrem opgetrek en kar het toe gevrek. Nie weer teruggeklim vir omtrent n week net om seker te maak die pendelaar wat nie taxigeld betaal het, is weg.

Eend Bessinger ·

Ek sou ook geskrik het! Die outjies kan jou behoorlik die skrik op die lyf jaag, maar die meeste is onskadelik tensy jy julle in ‘n hoek vaskeer. Hy het seker net ‘n bietjie liefde gesoek…

Misky ·

Sjoe en die koue rillings hardloop langs my rug af terwyl ek lees….. ek sal hardloop en skree en tekere gaan soos ek die straat afhardloop – ha ha ha ha

Danny ·

Hoop die spinnewales is gespaar en vrygelaat – hulle doen soveel goed in ons natuur! Dankie vir die rubriek – dit maak ander ook bewus van moontlike dodelike gevalle wat vorentoe vermy kan word deur oplettend op te tree :)

Elmarie ·

ek is so bang vir iets met meer as 6 bene, ek sou eerder aan ‘n slang gevat het. ek ril nou tot in my tone.

Debbie ·

Hoekom moet hy ook my huis oorneem – a nee a – die natuur is mos baie groter. Is dit nou ‘n ander manier van eiendom oorneem

Ou bees ·

EFF lid? ???????????? Dis nou die spinnekop hoor ????????

Lee ·

Eintlik nogal n mooi spinnekop – ek sou self gril as ek aan hom moes vat, shame sy nuwe tuiste is nou weg, nou soek hy seker n ander kar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.