2014: 100 jaar van inkomstebelasting in Suid-Afrika

geld 2Inkomstebelasting in Suid-Afrika is vanjaar 100 jaar oud. Dit is in 1914 in ʼn beperkte mate ingestel maar het oor die afgelope 100 jaar geweldig uitgebrei sodat dit vandag die hele middelklas raak, het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) Maandag gesê.

Inkomstebelasting word algemeen as ʼn onvermydelike deel van die moderne samelewing beskou. Baie mense reken dat dié belasting nog altyd met ons was. Dit is egter nie die geval nie. Inkomstebelasting is ʼn redelik nuwe belasting in Suid-Afrika; nie veel ouer as vier generasies nie.

  • Moderne Westerse inkomstebelasting het sy oorsprong in 1799 in Brittanje gehad en was slegs ʼn tydelike heffing ter befondsing van die Napoleoniese oorloë. Die inkomstebelasting is in 1815 afgeskaf, maar is weer in 1842 ingestel.
  • Bykans 200 jaar ná die instelling van inkomstebelasting is dit steeds in Brittanje as ʼn tydelike belasting geag en het dit jaarliks nuwe wetgewing vereis om dit in stand te hou.
  • In 1914 is die eerste nasionale inkomstebelasting by wyse van die Inkomstebelastingwet van 1914 in die Unie van Suid-Afrika ingestel. Voor inkomstebelasting was staatsinkomste meestal van handelsheffings, gebruikersfooie, indirekte belastings en mynbelastings afkomstig.
  • In 2012/’13 het persoonlike inkomstebelasting 34% van die staat se belastinginkomste verteenwoordig.

1914 se inkomstebelastingkoers

  • In 1914 is inkomstebelasting op enige inkomste van meer as 1 000 pond gehef op grond van ʼn glyskaal wat by ses pennies per pond (oftewel 2,5%) begin het. Die eerste 1 000 pond was nie belasbaar nie.
  • ʼn Persoon se effektiewe inkomstebelastingkoers op 2 000 pond met die glyskaalaanpassing was slegs 1,35%. ʼn Uiters welvarende persoon met ʼn inkomste van 25 000 pond moes slegs 7,2% van sy inkomste aan inkomstebelasting afstaan.

Historiese salarisse en 1914 se inkomstebelasting:

  • In 1929 het ʼn senior professor aan die Universiteit van Stellenbosch se vergoeding sowat 950 pond per jaar beloop. Indien die 950 pond aangepas word om met die deflasie in die 1920’s rekening te hou, sou ʼn senior professor in 1914 ongeveer 1 550 pond per jaar verdien het.
 InkomstebelastingberekeningEffektiewe koers

1 550 pond; senior professor

550 x 2,62% = 14,38 pond per jaar

(teen 6,28 pennies per pond)

0,93%

Vandag verdien ʼn professor aan die Noordwes-Universiteit, in ʼn soortgelyke professorale pos, ongeveer R800 000 per jaar. Die inkomstebelastingkoers op ʼn salaris van R800 000 is aansienlik hoër as in 1914.

 

Inkomstebelastingberekening

Effektiewe koers

R800 000; senior professor

R173 125 + 40% van die bedrag bo R638 600 = R237 685 per jaar

29,7%

ʼn Senior professor staan vandag dus ʼn baie groter deel van sy vergoeding aan inkomstebelasting af as wat 100 jaar gelede die geval was. Wat ook in ag geneem moet word, is die aantal mense wat aanvanklik nie inkomstebelasting betaal het nie.

  • In 1914 het baie mense minder as 1 000 pond verdien en hulle was dus aanvanklik vrygestel van inkomstebelasting. Dié toedrag van sake het nie lank gehou nie. ʼn Sprong in die inkomstebelastingkoerse het reeds in 1915 plaasgevind en die drempel van ʼn 1 000 pond is ook in daardie jaar tot 300 pond verlaag.
  • Vandag dra die middelklas swaar aan die las van inkomstebelasting. Mense met ʼn belasbare inkomste van meer as R140 000 per jaar betaal sowat 90% van persoonlike inkomstebelasting.

Diegene wat in 1914 tot inkomstebelasting ingestem het, sou sekerlik nooit sulke hoë koerse soos wat vandag geld, verwag het nie. Die 1914-Inkomstebelastingwet was ʼn voet in die deur om oor die laaste eeu die belastinglas toenemend uit te brei. Dit is nou op die meeste middelklas-Suid-Afrikaners van toepassing.

Die SNI stel in die aanloop tot Pravin Gordhan, minister van finansies se begrotingsrede ’n reeks inligtingsblaaie beskikbaar. Solidariteit sal Dinsdag weer ʼn inligtingsblad oor belasting in Suid-Afrika beskikbaar stel. Die SNI het Sondag ʼn inligtingstuk oor die werklike aantal belastingbetalers beskikbaar gemaak. Klik hier om dit af te laai. Die SNI het ook Vrydag ʼn inligtingstuk oor die 2013/14-belastingjaar se skynverligting van belasting beskikbaar gemaak. Klik hier om dit af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.