SA kan dalk by Pole leer

Suid-AFrika kan dalk by Pole leer. Foto: Poolse vlag deur Kpalion via Wikimedia Commons

Suid-AFrika kan dalk by Pole leer. Foto: Poolse vlag deur Kpalion via Wikimedia Commons

In Pole gebeur tans iets merkwaardigs wat lesse vir Suid-Afrika inhou. Dit gaan om ’n populistiese regering wat die demokrasie ondermyn en deur ’n lewendige burgerlike samelewing beveg word.

Skaars ’n maand ná die laaste algemene verkiesing in Pole is ’n regering in Warschau aan die bewind wat ’n taamlik goeie idee gee van watse verwoesting ’n oordrewe ideologies ingestelde regering kan aanrig. En, ondanks die feit dat dit ’n regse, nasionalistiese party – “Reg en Geregtigheid” – is wat nou dáár regeer, is die ooreenkomste met wat veral sedert pres. Jacob Zuma se bewindsoorname in 2009 in Suid-Afrika gebeur, enorm.

“Reg en Geregtigheid” se leier is die nasionalistiese Jaros Kaczyński. Hy het twee ander mense as sy marionette na vore geskuif om as president (Andrzej Duda) en eerste minister (Beata Szydlo) te dien. Maar agter die skerms is dit Kaczyński wat die kitaar slaan en bepaal wat gebeur.

Kaczyński se party het aan die bewind gekom met ʼn interessante mengsel wat jy ook by ander populistiese partye in Europa aantref – ʼn gekombineerde boodskap van felle nasionalisme en ʼn ekonomies sosialistiese benadering.

In 1989 is ʼn ongewilde kommunistiese diktatuur deur ʼn geweldlose opstand onder die Pole tot ʼn val gebring. Die leier van die opstand was die charismatiese leier van die vakbond Solidariteit, Lech Wałesa, wat Pole in ʼn demokratiese land omgeskep het.

Allengs het Wałesa se opvolgers egter aan die mag gewoond geraak, hoofsaaklik aan hul eie plekkie op die soustrein begin werk, korrup en ondoeltreffend geword. Dis kortpad om die Poolse politieke geskiedenis sedertdien te beskryf, maar ek het nie plek om alle nuanses weer te gee nie. Die belangrike punt is dat die kiesers moeg geword het vir korrupsie, onbekwaamheid en verbreekte beloftes, en hulle het toe gemeen Kaczyński moet ʼn kans kry.

Binne ʼn maand het dit egter geblyk dat hy niks meer as ʼn Rottevanger van Hameln is nie. In dié paar weke sedertdien het hy ʼn hele rits maatreëls laat deurdruk wat die demokrasie behoorlik aangetas het.

“Reg en Geregtigheid” het, soos die ANC in Suid-Afrika, ʼn volstrekte meerderheid in albei huise van die parlement, wat beteken dat daar slegs drie beperkings op sy mag is: Die grondwet, die konstitusionele hof, en die burgerlike samelewing.

Kaczyński se eerste stap was om die bekragtiging van vyf konstitusionele-hof-regters wat nog onder die ou bedeling aangewys is en wat in die verlede altyd ʼn blote formaliteit was, te kanselleer. Pleks daarvan het hy die benoeming van vyf ander mense, almal lojaliste van sy eie party, deurgedruk.

Bowendien behandel die parlement vandeesweek ʼn bykomende voorstel dat die 15 regters van dié hof nie – soos tot dusver die geval was – beslissings deur ʼn gewone meerderheid kan neem nie, maar slegs deur ʼn tweederde-meerderheid. Waarmee hy nie slegs die konstitusionele hof ondergrawe nie, maar ook die grondwet en die demokrasie self.

Jerzy Stępień, ʼn vorige president van die konstitusionele hof, het dit reguit ʼn “staatsgreep” genoem.

Ook wil die regering die geskiedenis herskryf deur die staatsubsidie van ʼn rolprent soos Ida in te trek. Hierin word die moord op ʼn Joodse familie in die Tweede Wêreldoorlog behandel, en word die pynlike geskiedenis van Poolse antisemitisme aan die kaak gestel.

Dis amper soos om die ANC se eie vertolking van sy “onselfsugtige heldegeskiedenis” van die stryd teen apartheid in twyfel te trek.

Nou het Pole sedert die dae van Solidariteit ʼn lewendige burgerlike samelewing. En toe dit duidelik word welke rampsalige keuse hulle gedoen het, het die breë burgerlike samelewing sy stem dik begin maak.

Twee opeenvolgende naweke het die strate en pleine van die groot stede, soos Warschau, Poznan, Gdansk en ander plekke met tienduisende betogers vol gestroom, mense wat geëis het dat die demokrasie nie aangetas word nie. Binne twee weke het die gewildheid van die nuwe regering geduik van die 52% wat hy in die verkiesing behaal het, tot 27% nou.

Lech Wałesa, nou al taamlik bejaard, het tot verset opgeroep en selfs gewaarsku dat die regering ʼn “burgeroorlog” kan uitlok. Luidens berigte is dit veral die ouer kiesers, wat nog die donker dae van die kommunistiese diktatuur onthou, wat in opstand kom.

In die Duitse konserwatiewe dagblad Die Welt word die Poolse regering se beleid só getipeer: “Hy bring die media in gelid en beset sleutelposisies in staatsondernemings, geheime dienste en polisie met sy getroues. Dit lyk of daar geen taboes vir die regering is nie.”

Klink baie soos die “ontplooiing” van “kaders” in sleutelposisies in Suid-Afrika ook.

Nie dat dit indruk op die nuwe regering maak nie. Kaczyński.het Poolse kritici wat deur Westerse media aangehaal is, as “die ergste soort Pool” en “Gestapo-medepligtiges” uitgeskel. (Klink amper soos adv. Thuli Madonsela, wat volgens die ANC ʼn “CIA-agent” is!)

Premier Szydlo het die betogers minagtend afgeskryf. “Diegene wat die proteste organiseer, is dié wat mag, voorregte en invloed verloor het,” het sy luidens berigte op die nasionale televisie gesê.

Dis soos daardie polities korrekte bleeksiele in Suid-Afrika wat alle teenstand teen die ANC (en vir die behoud van Afrikaans se grondwetlike regte) as ʼn terughunkering na apartheid beskryf.

In Pole word dit, soos dit in Suid-Afrika in sekere mate reeds is, ʼn diktatuur van die meerderheid. Hoe dinge daar gaan ontwikkel, kan natuurlik nie nou gesê word nie, maar wat wel duidelik is, is dat die Pole nie die erosie van hul vryheid sonder slag of stoot gaan aanvaar nie.

Natuurlik moet ʼn mens bogenoemde ooreenkomste nie oordryf nie. Apartheid was ʼn outoritêre stelsel, geen totalitêre diktatuur soos die kommunisme in Pole nie. Ook het ʼn etniese minderheid in Suid-Afrika ʼn meerderheid oorheers, terwyl daar nie eintlik etniese verskille in Pole is nie.

Tog kan Suid-Afrikaners gerus goed kyk wat in Pole gebeur. Sonder om te maak asof die bedeling van 1994 perfek is – dit is nie – is daar talle aspekte wat uiters bruikbaar is om ons vryhede te verdedig.

Dis waarom duisende Suid-Afrikaners verlede week vir die verwydering van Zuma kon betoog.

Dis nie te sê dat die betogings in sowel Pole as Suid-Afrika in hul doel gaan slaag nie. Maar wat tans in die breë in Pole gebeur, kan ʼn goeie les wees vir Suid-Afrikaners van alle kleure en bevolkingsgroepe om na te volg, en ʼn goeie voorbeeld om na te volg.

Die demokrasie is die moeite werd om te verdedig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marco ·

Sal my eerstes weer probeer:

Scholtz gryp weer na strooihalms soos altyd.

Nel ·

Nee wat, dis lagwekkend om die huidige Poolse regering, en ANC met mekaar te wil vergelyk!

Vergeet nou vir eens en al van demokrasie, en aanvaar dat ons ń monargie gaan hê, en ei gaan koning wees.

Geseënde Christus-fees :)

Nel ·

Ag nee wat, dis lagwekkend om die huidige Poolse regering, en ANC met mekaar te wil vergelyk!

Vergeet nou vir eens en al van demokrasie, en aanvaar dat ons ń monargie gaan hê, en ek gaan koning wees.

Geseënde Christus-fees almal :)

Johann Marx ·

Nee wat, SA sal niks by Pole leer nie…..of Engeland, of Amerika, of Ierand, of China….noem maar op. SUID AFRIKA se regering leer by niemand niks. Hulle sal hardkoppig voort ploeter op ‘n pad wat direk na ‘n afgrond lei, en dan sal hulle nog oop oë daaroor stort……en niks leer nie. Net vingers wys en blameer, blameer, blameer…..

Winston ·

Johann Stem saam. Blame game is baaaie makliker. Alles bly n uitdaging en niks word opgelos nie.

elize naude ·

ek hoop nie dat suid afrika by pole wil “leer” nie… pole ontwikkel in ‘n regspopulistiese nazi staat… dit was suid afrika al lank genoeg! en die uiteinde van so n ontwikkeling is n linkspopulistiese kommuniste staat…
in the middle siddle is miskien n bruikbare regering!

DPJ ·

Onthou Suid-Afrika is geens’s vergelykbaar met die Westerse beskawing nie. SA het hulle eie maatstaf. Weste is ‘n belediging van hul maatstaf. Eeder ooste se maatstaf.

Zirk ·

Ek vind dit betreurenswaardig dat lesers goeie en kundige raad vanaf ‘n vooraanstaande , en hoogs bekwame senior joernalis so gering ag. Leopold woon en werk in Europa en het eerstehandse kennis met wat in daardie lande gebeur. So, mense , speel die bal en nie die man nie. En moenie die boodskapper doodmaak as jy nie van die boodskap hou nie. Dan het ons mos nou maar net so laag gedaal soos die huidige regeerders.!
Ek sal voorstel dat ons d.i. die burgerlike samelewing, ons en ook die opposisie partye waaraan ons behoort,aanmoedig om voortdurend en by elke moontlike geleendheid, die ANC se vergrype te ontbloot. En moet onder geen omstandighede beloftes maak nie. Die ANC moenie dink hy kan almal altyd ‘n rat voor die oë draai nie. Mense, d.i. sy volgelinge, se oë gaan oop vir die waarheid. Die probleem is net hulle het nie geld om koerante te koop of dalk ‘n TV om nuus te kyk nie. Ek vind dat in my daaglikse omswerwinge, groot onkunde oor politiek, daaglikse nuusgebeure, die werking van demokrasie en veral die geskiedenis van die land en veral die bydrae van die Afrikaner daarin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.