ʼn Man in sy 30’s het Sondagmiddag in die see by die uShaka-strand in Durban verdrink.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê ʼn lewensredder het die man uit die see uit gehaal en noodhulp begin toepas terwyl hy vir ʼn ambulans gewag het.
“Paramedici het by die lewensredder oorgeneem en die man aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel,” het Botha gesê. “Paramedici het vir ʼn uur lank tevergeefs probeer om die man by te bring. Hy is op die toneel dood verklaar.”