Chinese ambassade verwerp bewerings van mishandeling

Senior personeellede van die Chinese ambassade tree in gesprek met betogers (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die Chinese ambassade het tydens ʼn perskonferensie bewerings van mishandeling en onregverdige afdanking van ʼn voormalige tydelike werknemer verwerp. Die ambassade doen ʼn beroep op die departement van internasionale betrekkinge en samewerking om in te gryp.

Lede van die plaaslike diplomatiekepersoneelvakbond Ulemasa het Vrydag buite die ambassades van Volksrepubliek China en Thailand betoog oor bewerings van werkermishandeling, insluitend aanrandings, in die ambassades.

Ulemasa het gesê die Chinese ambassade het ʼn werknemer, Constance Maredi, onregverdig afgedank ná sy vir meer as ʼn dekade lank sonder ʼn kontrak gewerk het. Die Chinese ambassade het egter in reaksie hierop gesê Maredi het herhaaldelik geleenthede van die hand gewys om die kontrak te onderteken.

Die ambassade het gesê die voormalige tydelike werknemer, Maredi, ʼn Suid-Afrikaanse burger, het reeds sedert 2008 as ʼn skoonmaker en tydelike personeellid in die ekonomiese en handelskantoor van die Chinese ambassade in Suid-Afrika gewerk.

“Gegewe haar familieprobleme is sy toegelaat om vrywillig te werk sonder enige kontrak,” lui die verklaring.

Senior personeellede van die Chinese ambassade tree in gesprek met betogers (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die ambassade het egter in Desember 2018 vereis dat alle personeellede, kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing, indiensnemingskontrakte met die ambassade moet onderteken. Maredi het glo deurgaans geweier om die kontrak te onderteken.

“Toe al die ander plaaslike personeel in die ambassade die kontrakte onderteken het, het die ambassade haar herhaaldelik in kennis gestel en aangeraai om die kontrak te onderteken. Die ambassade het selfs, as ʼn mate van aanmoediging, ingestem om haar salaris te verhoog indien sy die kontrak sou onderteken, maar sy het steeds geweier uit vrees dat sy in die toekoms afgedank sou word en dan versoek sou word om tydelik te bly werk.”

Die ambassade het Maredi meer as nege maande gegun om haar posisie te oorweeg, maar sy het steeds geweier om die kontrak te onderteken. “Die Chinese ambassade het haar in September 2019 weer in kennis gestel dat sy nie verder as ʼn tydelike werker sou kon werk tensy sy die kontrak onderteken nie, en ons het haar weer genoeg tyd gegun om die kwessie te heroorweeg.”

Maredi het egter op 1 Oktober versuim om by die werk op te daag, sonder enige kennisgewing. Die ambassade is dus van mening dat die verhouding tussen die twee partye onherstelbaar verbrokkel het en sy is nie meer toegelaat om by die ambassade te werk nie.

Die ambassade wou egter op ʼn vriendskaplike manier paaie skei van Maredi en het ʼn skikkingsaanbod gemaak. Maredi, Ulemasa en haar seun het egter die skikkingsaanbod verwerp.

Plaaslike diplomatieke personeel betoog buite Volksrepubliek China en Thailand se ambassades in Pretoria (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

“Die ambassade is geskok om te hoor dat sy en haar seun, sedert die einde van 2018, leuens versprei oor die ambassade wat betref fisieke mishandeling, emosionele mishandeling, finansiële mishandeling, die installering van kameras in kleedkamers, werknemers wat nie toegelaat word om swanger te word nie, viktimisasie en die onmenslike behandeling van vroue op platforms soos sosiale media, vakbonde, die KVBA [kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie], en Dirco [die departement van internasionale betrekkinge en samewerking]. Dit is ongegronde leuens.”

ʼn Interne ondersoek is gedoen oor die bewerings en daar was nie enige stawende bewyse nie.

Die ambassade is egter steeds bereid om met die departement te onderhandel “om ʼn regverdige skikking te bereik” met Maredi.

Die ambassade het gesê hy het reeds ingestem tot ʼn skikkingspakket van ʼn jaar se salaris teen R4 500 per maand, omdat Maredi 12 jaar lank in sy diens was, maar die aanbod is verwerp.

Beamptes by die Thaise ambassade het geweier om met verslaggewers te praat en het slegs deur ʼn hek met betogende werkers kontak gemaak.

Ayanda Molefe, woordvoerder van Ulemasa, het aan African News Agency gesê personeellede by die Chinese en Thaise ambassades word mishandel. “Hulle word geslaan – spesifiek by die Chinese ambassade,” het sy gesê. “Die werkers word met kombuistoerusting geslaan. Hulle word gevloek.”

Volgens Molefe het Maredi geweier om die kontrak te onderteken, omdat dit nie aan Suid-Afrikaanse wetgewing voldoen nie.

“Hierdie ambassades moet voldoen aan Suid-Afrikaanse wetgewing en die Wet op Arbeidsverhoudinge. Dit is al wat ons wil hê.”

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die betogers by albei ambassades gemonitor. Privaat veiligheidswagte het ook ʼn swaar teenwoordigheid behou.

Senior personeellede van die Chinese ambassade het met die betogers in gesprek getree. Hulle het egter geweier om die betogers se memorandum te onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jaco ·

Daardie gedrag is normaal in ons land, noem dit “Entitlement” welkom in ons werkslewe Sjina.

Natalene Visser ·

Ja nee, mens gaan nie met betogings en eise altyd jou sin kry nie.

piper ·

nou sien hulle wwarmee die land elke dag moet worstel. ons kan baie van hulle verniet china toe stuur met n eenrigting kaartjie.

wiehan ·

Ek ken mense wat vir Sjinese maatskappye werk en dis glad nie wonderlik nie. Hulle word soos honde behandel en moet selfs 23h00 in die aand aanmeld vir vergaderings. Indien hul vra vir oortyd, word hul gedreig met afdanking. Gaan kyk bietjie by Sjinese maatskappye hoeveel sogenaamde “HOOGD GEKWALIFISEERDE SJINESE” daar is. Meeste onwettig in die land. Wanneer Binnelandse sake soontoe gaan kry hul net die wat wettig hier is. Los komputers, kos ens netso en verdwyn vir ‘n dag of twee. Iemand in Binnelandse sake waarsku hulle!!!!!!

Anon ·

Wat jy sê mag dalk 100% korrek wees maar een ding is verseker, die Sjinese is harde werkers.

schaun ·

Die chinese moet maar huidige benaadeelde suid afrikaanse mense aanstel die voorheen benadeeldes stel duidelik nie belang nie.

jaco ·

met China wat so n lekker dik pel van die ANC is, sal dit eintlik goed wees as die ANC meer soos China kan wees wat betref arbeidsaangeleenthede: VAT VAS as n werker useless is.
Daarby kom ook China se lae misdaadsyfer en doodstraf vir goed wat in die ou SA ook met die dood strafbaar was. Amper almal in China trap dus in hulle spoor.
Christene word nou wel daar vervolg en aan bande gelê, maar daars SOVEEL ander voordele in die samelewing daar (geen beurtkrag, geen misdaad, geen swak onderwys, geen swak hospitale), dat ek dan eerder maar n geheime gelowige sal wees. Dis steeds VEEL BETER as die hool waarin ons tans in SA woon.

Jollie ·

Was die werkgewers wit, dan het die rooi berets lankal rasisme geskree en die plek afgebrand.

wilma ·

Werknemer en seun hoop seker op n skikkking van paar miljoen.

Tante ·

mense Sjina wil Afrika he vir hulself Afrika lande se leiers is so dom hul wil of kan dit nie insien nie. As jy vir hulle werk koop hul jou lewe en dan is jy vas jy is masjien geen mens werk werk werk geen rus en so ook Koreane ens dis hoekom hul so goed vaar in ekonomie Afrika het baaaaie masjiene en hul weet dit

Swart Piet ·

Ek dink hulle krap nou onder die verkeerde beer se stert.

Anon ·

Iemand krap waar dit nie jeuk nie en is te dom om te verstaan dat hulle pakslae gaan kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.