Louis Trichardt-huisbrand: Brandweerdienste verval onder ANC-beheer

(Foto verskaf deur die VF Plus)

ʼn Brand wat ʼn familiewoning in Flamboyantstraat in Louis Trichardt Dinsdagaand in puin gelê het, kan vierkantig voor die deur van die onbevoegde ANC-beheerde Makhado- plaaslike munisipaliteit en die Vhembe-distriksmunisipaliteit gelê word.

Só sê Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus in Limpopo.

“Plaaslike inwoners wat water aflewer in die dorp en lede van die gemeenskap moes self inspring om die brand te blus.”

Volgens hom het die junior-brandweerpersoneel, wat met ʼn bakkie en ʼn brandweerwa na die toneel ontplooi is, nie geweet hoe om die toerusting te gebruik nie.

Die plaaslike VF Plus-raadslid, Werner Esterhuizen, was op die toneel en het ingespring om die brandbestrydingstoerusting aan die gang te kry.

Die Makhado-munisipaliteit gaan al vir maande gebuk onder watertekorte en talle brandkrane is ook gevandaliseer.

Maritz sê bure met boorgate het water vir die bosvark-brandweerwa voorsien en ander inwoners het met hul eie brandbestrydingstoerusting en selfs emmers ingespring om die brand te blus. Die bosvark-brandweerwa is egter nie geskik om enige groot brand te blus nie en die huis is totaal vernietig.

“Volgens die Vhembe-brandweerdiens se afdelingshoof, Jack Ramalatso, is die twee junior brandweerbeamptes na die brand uitgestuur omdat senior beamptes reeds op ʼn ander toneel was. Die VF Plus het in Maart 2023 ‘n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die Vhembe-distriksmunisipaliteit oor die voortslepende waterkrisis waaraan niks gedoen word nie.”

Maritz sê die party het ook in dieselfde maand ʼn strafregtelike klag ingedien teen die uitvoerende burgemeester van die Vhemde-distriksmunisipaliteit, Nenguda Dowelani, en die waarnemende munisipale bestuurder, NC Tshikovha, ingedien oor dieselfde kwessie.

“Weens die nalatigheid van beide munisipaliteite is inwoners nou self verantwoordelik vir die blus van brande wat lewensgevaarlik kan wees. Munisipaliteite het ʼn wetlike verpligting om brandbestrydingsdienste aan inwoners te lewer, maar die ANC-beheerde rade is nie in staat daartoe nie.”

Die VF Plus bedank al die inwoners en sakelui wat ingespring het om die brand te probeer blus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Owlie ·

Hoe kan senior manne saam na n brand gestuur word en junior manne word op hul eie na n ander brand gestuur? Dis nie die junior manne naxwie n vinger gewys moet word nie maar die besluitnemer by daardie brand weer stasie saam met die plaaslike regering wat nie voldoende herstelwerk doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.