Weerlig dalk rede vir substasie-brand

Spanne werk die afgelope naweek daaraan om krag te herstel. (Foto: CityPowerJhb/Twitter)

Die inwoners van Lenasia in Johannesburg sal hopelik teen einde Maandag weer krag hê nadat die Lotus-substasie dae gelede in ʼn brand verwoes is – vermoedelik as gevolg van kwaai weerlig in die gebied.

Die brand het onder meer ʼn voerbord van een van die transformators beskadig, asook die transformator self, verskeie kabels en ander noodsaaklike toerusting.

Die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie, maar voorlopige ondersoeke dui daarop dat weerlig die brand veroorsaak het.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê tegnici het Sondag minstens 80% van die herstelwerk aan die substasie voltooi.

“Die spanne werk daaraan om die oorblywende 20% van die herstelwerk so gou moontlik af te handel.”

Mangena sê die span het oor die naweek onder meer die kabels van die uitgebrande voerbord na ʼn mobiele voerbord-eenheid verskuif en mobiele stroombrekers aan die transformators gekoppel. Al vyf die oorspronklike stroombrekers is afgeskakel. Dié stroombrekers bedien Vlakfontein, Hospitaalheuwel, Zakkariya Park en dele van Lenasia-Suid.

“Hoewel die herstelwerk deur die reën onderbreek is, werk ons spanne byna 24 uur per dag sedert die brand ontstaan het om kragtoevoer aan al ons verbruikers te herstel,” sê hy.

“City Power is steeds daartoe verbind om kragtoevoer aan alle verbruikers teen Maandag te herstel.

“Ons vra om verskoning aan diegene wat deur die kragonderbreking geraak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Shakespeare ·

As dit weerlig was ( wat ek nie glo nie) kan julle daai ANC minister wat tydens ‘n begrafnis, waar mense deur weerlig doodgeslaan is nader roep. Hy het gesê hy sal ‘n ondersoek loods wat sal uitvind wie dit veroorsaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.