deur Ester van der Walt
Die Skenk ’n Boek–liefdadigheidsprojek het vanjaar al byna 4 000 Kinderbybels ten bate van Helpende Hand se Skooltassieprojek ingesamel.
Die projekambassadeurs, Jak de Priester, Sorina Erasmus en MD Greyling, het gesê donasies vir dié projek is van Kanada tot die Midde-Ooste en selfs die Tshwane-metro ontvang.
Die Skooltassieprojek beoog om jaarliks minderbevoorregte gr. 1-leerders toe te rus met ’n skooltassie propvol benodighede vir ’n eerste skooljaar. Helpende Hand kan vanjaar, te danke aan die skenkings, in elke skooltassie die Eerste Bybel vir Klein Maatjies-boek van Johan en Nina Smit insluit en só ’n geestelike element by die projek voeg.
Ander maatskappye het tot soveel as 1 000 Bybels geskenk en die Westminster Presbiteriaanse Kerk in Calgary, Kanada, het binne ’n week genoeg geld vir 700 Bybels ingesamel, te danke aan ’n lidmaat wat die Skenk ‘n Boek–advertensie oor Pretoria FM, ʼn mediavennoot, gehoor het en die gemeenskap van 250 Afrikaanse gesinne in Kanada gevra het om by te dra.
Die oorhandiging van die Skooltassies sal vroeg in Januarie regoor Suid-Afrika plaasvind. Om by te dra tot die Skooltassieprojek, besoek Helpende Hand se webwerf, of SMS die woord “tassie” na 38969 (SMS’e kos R10).