Aardklop: Menslikheid van Franse teks betower in Afrikaans

Chris van Niekerk in die verhoogproduksie, ‘Madame Pylinska en die geheim van Chopin’. (Foto: Michael Garbett)

Met Oskar en die pienk tannie en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran het die bekroonde vertaler Naòmi Morgan Suid-Afrikaanse teatergangers geboei met haar verhoogverwerkings van die Franse skrywer Éric-Emmanuel Schmitt se werk.

Morgan het onlangs nóg ʼn teks uit Schmitt se pen, met die titel Madame Pylinska en die geheim van Chopin, vertaal en dit word eersdaags op Momentum Beleggings Aardklop in Gauteng aangebied.

“Daar is verskeie redes waarom ek dit geniet om met Schmitt se tekste te werk. In die eerste plek is die manier waarop hy die wêreld sien geweldig fassinerend, tweedens probeer hy nie intellektueel wees nie en sy tekste is nie moeilik om te verstaan nie, en derdens, skryf hy wonderlike tekste vir akteurs wat maklik uitvoerbaar binne die huidige materiële omstandighede is,” vertel Morgan in ʼn onderhoud met Maroela Media.

In Madame Pylinska en die geheim van Chopin vertel Schmitt, wat deur Chris van Niekerk vertolk word, die vermaaklike en dikwels roerende verhaal van sy lesse by ʼn Poolse klavieronderwyseres madame Pylinska.

Sy “Saterdae saam met Madame Pylinska” sluit lesse in oor die geskiedenis van Pole en komponiste wat vir die klavier geskryf het, veral Chopin en Liszt. Dit is eindelik ook die verhaal van Schmitt se ontdekking van waar sy eintlike talent lê: nie by die uitvoering van Chopin nie, maar by die skryf van kortverhale, romans en dramas.

Op die vraag oor waarom Schmitt se tekste so goed deur plaaslike gehore ontvang word, sê Morgan dat dit waarskynlik toegeskryf kan word aan die menslikheid van sy tekste.

“Die stories wat Schmitt skryf laat jou oor jou eie lewe en wat vir jou belangrik is, nadink. Madame Pylinska en die geheim van Chopin gaan daaroor hoe jy die ding in jou lewe moet ontdek wat jy goed kan doen en wat jou gelukkig sal maak.”

Morgan, hoof van die Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, is in 2015 met die Suid-Afrikaanse Vertalersvereniging se prys vir uitnemendheid in die vertaling van kinderliteratuur, bekroon. Die pryse is aan haar toegeken vir Oskar en die pienk tannie en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran.

Dit is ook nie die eerste keer dat Van Niekerk in een van Morgan se produksies speel nie. Hy het voorheen in haar vertaling en produksie van Antoine de Saint-Exupéry se Die klein prinsie gespeel. Vir dié rol het hy in 2017 die prys gewen vir beste Vrystaatse akteur.

Die pianis Eugene Joubert en akteur Chris van Niekerk in die verhoogproduksie, ‘Madame Pylinska en die geheim van Chopin’. (Foto: Michael Garbett)

Wat Madame Pylinska en die geheim van Chopin effens anders as Morgan se vorige Schmitt-aanbiedings maak, is die verwewing met musiek.

Die pianis Eugene Joubert, hoof van klavierstudies by St. Mary’s Waverley en Morgan se neef, het gesorg vir die musikale vertolking van Chopin se werk.

“Ek sou hom in elk geval kies het al was hy nie my nefie nie,” vertel Morgan laggend. “Hy is ʼn uiters professionele pianis en ʼn baie maklike persoon om mee saam te werk.”

Morgan meen woorde is wonderlik, maar soms nie genoeg om ʼn bepaalde gevoel te skep of oor te dra nie.

“Jy praat nie musiek nie, jy speel dit. Dit is presies wat Eugene doen: Alles wat madame Pylinska oor komponiste sê kleur hy met musikale vertolkings in. Jy hoor dan as’t ware die storie van madame Pylinska.”

Madame Pylinska en die geheim van Chopin is op 4 Oktober in die AfriForum Teater in Pretoria en op 7 Oktober by Laerskool Jan Celliers Kultuursentrum in Johannesburg te sien. Kaartjies is op die AfriForum Teater se webwerf en by Ticketpros beskikbaar.

Maroela Media het vroeër berig dat Momentum Beleggings Aardklop vanjaar in Pretoria, asook in Potchefstroom en Linden, aangebied word. Die fees vind van 30 September tot 2 Oktober in Potchefstroom plaas en van 6 tot 9 Oktober wip die fees se teaterproduksies in Linden op.

Besoek Aardklop se webwerf en hou die fees se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.