Afrikaans 90: Afrikaans is ’n loslittaal, ’n wetenskapstaal

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Christo Viljoen (US)

Afrikaans is ’n loslittaal; ’n lenige en soepel taal waarin jy jouself kan uitdruk en dinge kan sê soos wat in geen ander taal moontlik is nie. En terwyl élke taal in meerdere of mindere mate sulke unieke uitdrukkingsvermoëns besit, is daar nie nog één wat dit kan doen soos in Afrikaans nie.

Afrikaans se vermoë om verkleinwoorde te skep, word byvoorbeeld geïllustreer deur die slampamperliedjie “Lamtietie damtietie”:

Lamtietie damtietie doe-doe my liefstetjie
Moederhart rowertjie, dierbaarste diefstetjie
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie
heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie

Doe-doe-doe blaretjie, slapenstyd nadertjie
Doe-doe-doe blommetjie, nag is aan kommetjie
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

Ek daag enigeen uit om dit in enige ander taal met dieselfde gevoelvolheid en soepelheid te vertaal.

My vrou is gebore in die destydse Tsjeggo-Slowakye, en het in haar twintigerjare (nadat ons ontmoet het) vir die eerste keer gehoor dat daar ’n taal soos Afrikaans bestaan. Op skool in Australië is hulle geleer dat die “Boers” (sic) in Suid-Afrika “Cape Dutch” praat. Sy was skoon verbaas toe ek haar meedeel dat ek nog nooit van dié taal gehoor het nie, en as Afrikaner dit beslis nie kan praat nie. Vandag is sy vlot in Afrikaans, en sê sy onomwonde dat sekere dinge nét in Afrikaans gesê kan word.

Volgens haar is een van dié unieke woorde die woord “sukkel”. Volgens haar (en sy praat ses tale vlot) kan mens net in Afrikaans behoorlik sukkel … En hoe op aarde sê mens in Engels “die kat loop onder die tafel deur?”

Maar Afrikaans is ook ’n wetenskapstaal, en een van slegs twee van die nege amptelike tale in Suid-Afrika wat as volwaardige akademiese taal gereken kan word. Ekself het die vak elektronika aan universiteit in Afrikaans gedoseer, en nooit was dit nodig om Engelse vakterminologie te gebruik nie. Daarvoor sorg dosyne Afrikaanse vakwoordeboeke.

En dit is juis hierdie vaktaalkundige volwassenheid van Afrikaans op die gebied van die natuurwetenskappe, ingenieurswese en tegnologie wat Afrikaanssprekende skoolleerlinge ’n besondere voorsprong besorg tydens hul skool- en naskoolse studies.

In Suid-Afrika neem graad 8-skoolleerlinge gereeld deel aan die sogenaamde internasionale TIMMS (“Trends in International Mathematics and Science Study”)- toetse. Die toetse kan in Afrikaans óf Engels afgelê word, en twee vraestelle word geskryf: een in Wiskunde, die ander in Wetenskap. Nog elke keer presteer Afrikaanssprekende leerlinge sowat 50% béter as Engelstalige Suid-Afrikaanse leerlinge, waarvan meeste Engels as tweede taal het.

Dit bewys onteenseglik die waarde van moedertaalonderrig: Afrikaanssprekendes se beter prestasies moet onder meer toegeskryf word aan die feit dat hulle hul wiskunde- en wetenskapsonderrig deur middel van hul moedertaal, oftewel Afrikaans ontvang het. Afrikaans beskik oor ’n omvattende en goed gedefinieerde vakterminologie in hierdie twee vakgebiede.

Wiskunde is ’n kennisgebied waarin nieverbale kommunikasie, en visuele simboliese en grafiese voorstellings tot ’n groot mate toegepas word. Die wiskunde-“taal” het ’n ryke grammatikale struktuur en is ryk aan woorde wat net in hierdie besondere studieveld aangetref word. Nogtans is die wiskundige woordeskat van een gesproke taal soortgelyk aan dié van vele ander, maar uniek binne die betrokke taal self. Fundamenteel is wiskunde egter ’n aktiwiteit en ’n skathuis van kennis wat oor baie eeue heen versamel is.

Dit kan ten beste ontsluit word, en die resultate daarvan gekodifiseer word, in die moedertaal van die leerder wat hierdie nuwe vakterrein probeer bemeester.

Wanneer kinders die eerste keer skool toe gaan, moet hulle nuwe gebruike van taal op velerlei gebiede aanleer. Die opvoedkundige rituele van wiskunde verskil egter aansienlik van dié van ander metodes van kommunikasie. Om die kwadratiese uitdrukking y = ax2 + bx + c in gewone woorde uit te druk, is haas onmoontlik, en word veel erger wanneer dit in ’n vreemde (dit wil sê tweede of niemoedertaal) moet gebeur.

Om die wortels van so ’n vergelyking voor te stel, is elementêr in wiskundige notasie; in die nie-wiskundige “taal” is dit eenvoudig nie haalbaar nie. En hoe verklaar jy A = пr2 as die oppervlakte van ’n sirkel in eenvoudige terme?

Dit is bereken dat ongeveer 500 nuwe wiskundige woorde gedurende die laerskooljare in gebruik geneem word in skoolhandleidings vir leerlinge wat in dié stadium oor ’n totale woordeskat van ongeveer 4000 woorde beskik. Die onderrig en aanleer van wiskunde sluit nie slegs die gesproke woord (luister en bespreek) in nie, maar behels ook die geskrewe vorm van die taal, dit wil sê aktiwiteite van lees en skryf. Taalontwikkelingsoorwegings in die ontleding van wiskundige onderrig vereis dat die gewone gesproke taal die aanvanklike verduideliking van en kommunikasie oor wiskundige konsepte en vaardighede sal fasiliteer. Dit word gedoen deur by kinders die verstaan van wiskundige begrippe tuis te bring deur gebruik te maak van “gewone” taal wat aan hulle bekend is. Met dít as basis kan hulle vorder na wiskundige simbolisme, die mees gesofistikeerde vlak van kommunikasie.

’n Wiskundige uitdrukking bly in sy eenvoudigste vorm een van die mees elegante voorstellings van ’n spesiale “snelskrif”; ’n taal binne ’n taal. Nieverbale voorstellings en simbole speel ’n belangrike rol, hetsy dit die gebruik van simbole en afkortings soos %, +, kg, m of die gebruik van grafieke, vloeidiagramme en grafiese meetkundige sketse is.

Vakterme het in die wiskundige en wetenskaplike vakrigtings eksplisiete betekenisse, byvoorbeeld krag, druk, drywing, energie, digtheid, hitte, temperatuur, massa, gewig. So byvoorbeeld is spoed (’n skalaar) en snelheid (’n vektor) nie sinonieme nie. Dit op sigself vereis ’n unieke en eenduidige definisie vir elke vakwoord. Simbole het eweneens ’n unieke betekenis, bv ∑en ∆en п (pi), of selfs =, ensovoorts.

Dit alles word ten beste deur middel van die moedertaal verduidelik wanneer leerlinge die betekenis van woorde en simbole vir hulself moet konstrueer op ’n nuwe en vreemde terrein, oftewel ’n “nuwe” (wiskundige of wetenskaps-) “taal” om die dikwels teen-intuïtiewe en “onnatuurlike” terreine van die wetenskap en wiskunde te bemeester.

Om nuwe en moeilike vakterreine in dié stadium dan in ’n tweede taal te moet bemeester, vererger die probleem meervoudig.

Soos Agnes Azzolino dit uitdruk in “The languages of the math classroom”:
Taal, soos beliggaam in ’n moedertaal, was gepraat lank voordat wiskunde beslag gekry het. Dit maak die moedertaal die mees basiese van wiskunde-klastale … As die luisteraar die wiskunde nie verstaan nie, kan jy die wiskunde nét in die moedertaal verduidelik.

Dit bring mens onwillekeurig by die vraag: waarom is dit belangrik om in so ’n klein taal as Afrikaans in die wetenskap te leef? Wetenskapsbeoefening is ’n deel van ’n samelewing se kultuur – en dit geld ook vir die Afrikaanssprekende samelewing. Wetenskapstaal is ’n voorvereiste vir wetenskapsbeoefening.

Om die wetenskapsbeoefening as deelkultuur behoorlik in ’n samelewing in stand te hou, moet dit geskied in die taal wat eie aan daardie kultuur is. Ek is nie bewus van enige samelewing in die internasionale gemeenskap wat suksesvol leef en groei in die wetenskap in ’n taal wat vreemd is aan daardie samelewing nie. Hierdie suksesvolle leef en groei in die wetenskap kan egter nie geskied sonder die nodige taalkundige gereedskap nie, wat die belangrike posisie van vakterminologie beklemtoon.

Dit kan alles opgesom word met die woorde van wyle professor Elize Botha, kanselier van die Universiteit van Stellenbosch, aan die vooraand van die lansering van Sunsat, Suid-Afrika se eerste mikrosatelliet wat deur studente aan die Universiteit van Stellenbosch ontwikkel is, toe sy by die Vandenberg-lanseerbasis buite Los Angeles, VSA, op 4 Maart 1999 gesê het:
“Die ontwikkelingsgeskiedenis van Sunsat kan van begin tot einde in Afrikaans vertel word. Dié ontwikkeling, net soos al ons hoëvlakprestasies en ander kundigheid eie aan ons universiteit, het Afrikaans in sy funksie van wetenskapstaal verfyn en verryk. En aan die US word hierdie ryke wins aangegee, om ’n blink en bruikbare instrument vir die verwerwing van kennis en insig in die mond en denke van jong Afrikaansgebruikers te kan wees.”

Afrikaans is inderdaad reeds in die ruimte in gelanseer, en neem sy plek in langs die ander ontwikkelde, akademiese tale van die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Elsie Fourie ·

Goeie dag

Ek stem heelhartig saam!
Soms wonder mens hoe het sekere ideome ontstaan.
Bv. ‘Oulap se Rooi’ – ek weet wat die betekenis is, maar kan nie die kloutjie by die oor kry nie.
As iemand so gaaf sal wees om n bietjie agtergrond oor die ontstaan van die ideoom kan gee, sal ek baie bly wees.

Ja nee, Afrikaans bly ‘n interessante taal, wat ons MOET koester!

Groetnis van deur tot deur.
Elsie Fourie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.