Altyd voorwaarts vir Marlie Coetzee van VivA

Marlie Coetzee, uitvoerende hoof van die Virtuele Instituut vir Afrikaans. (Foto: Verskaf)

As kind het Marlie Coetzee, uitvoerende hoof van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), een middag by haar ma gekom en gevra wat sy moet doen om uitsonderlik te wees.

“Dit was eintlik so ongelooflik wat my ma se antwoord was. Sy het gesê: ‘Harde werk, baie nederigheid en baie geduld’.”

In die jong Marlie se kop was haar ma se woorde in daardie oomblik nie veel van ʼn rigtingaanwyser nie, maar sonder dat sy besef het, het dit ʼn kernbestanddeel van haar suksesresep geword.

Dan is daar ook die bydrae van haar pa, wat voorwaar ʼn rolmodel in Marlie se lewe is. Dit is veral sy waagmoed om op 50 sy onderwysdroom na te jaag, wat vir haar uitstaan.

“My pa wou nog altyd ʼn onderwyser geword het, maar ons het ʼn familieplaas gehad en my oupa het gevra dat my pa na hom die plaas oorneem. Op 50 het my pa toe die geleentheid gekry om te begin swot. Hy het sy onderwysgraad voltooi en is nou al die waarnemende skoolhoof by Hoërskool Westonaria, waar ek was.”

Eintlik, as sy mooi daaroor dink, is haar doelgerigtheid miskien dalk ingebore. Al was Marlie op skool by hordes buitemuurse aktiwiteite betrokke, was dit weliswaar nie omdat haar ouers enige druk toegepas het om te presteer nie.

“My ouers se reël was altyd net dat ek aan soveel aktiwiteite mag deelneem as wat ek wil, solank my akademie nie daaronder ly nie.”

Op skool was daar talle goeie onderwysers wat ʼn invloed op Marlie se ontwikkeling en groei gehad het, maar ook een of twee wat minder optimisties oor haar toekoms was.

“Ek het ongelukkig een van daardie onderwysers gehad wat gesê het ek sal nie veel in my lewe bereik nie. Die gedagte wat by my opgekom het, was dat ek vir hom sal wys dat ek êrens in die lewe gaan kom.

“Jy kan self besluit wat jy met sulke kommentaar maak. Gaan jy in ʼn hoekie sit en huil of gaan jy dit omdraai in iets positiefs? Ek is eintlik dankbaar vir daardie onderwyser, want kyk waar sit ek nou. Ek is heel tevrede met waar ek is.”

Marlie is die enigste kind en haar wortels lê diep geanker in Westonaria. “Ek is trots daarop om van dié Wes-Randse myndorp af te kom. Ek het wonderlike grootwordjare daar gehad en dit was nog altyd ʼn wonderlike en hegte gemeenskap.

“Dit was vir my sleg toe my ouers tydens die pandemie moes trek, want toe kon ek nie gaan afskeid neem van die huis waarin ek grootgeword het nie. Al is ek hoeveel jaar al weg uit die dorp, is daar steeds mense wat my na aan die hart lê.”

Marlie Coetzee as redakteur van die NWU se kampuskoerant, Wapad. (Foto: Verskaf)

Op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus was sy nie in ʼn koshuis nie, maar dit het Marlie nie terug gehou nie. Sy het by die NWU se kampuskoerant, Wapad, as joernalis begin werk. Later was sy die subredakteur en uiteindelik toe ook die redakteur van hierdie publikasie.

Marlie het ʼn BA-graad in kommunikasiekunde met joernalistiek as vak, ʼn nagraadse diploma in besigheidsbestuur, en sy het onlangs haar meestersgraad in besigheidsadministrasie (MBA) by die NWU voltooi.

Sy het voorheen as projekbestuurder vir VivA en by die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®) van die Noordwes-Universiteit (NWU) gewerk, en in 2019 het sy die leisels by VivA oorgeneem.

Om elke dag in en met Afrikaans te werk verskaf vir Marlie eindelose vreugde. “Dit is vir my ontsettend lekker en ek is geweldig passievol oor Afrikaans. Ek dink eintlik dat enigeen wat in dié taal werk, ʼn passie daarvoor moet hê.

“By VivA kry ek ook die geleentheid om saam aan ʼn nalatenskap vir Afrikaans te bou en om gebruikers te lei deur die onsekerhede van tegnologiese vooruitgang.

“Ek is verskriklik bang daarvoor om dood te gaan sonder om iets wat ʼn blywende effek het, agter te laat, maar as deel van die span by VivA kry ek elke dag die geleentheid om aan Afrikaans te help bou.”

Marlie se droom vir VivA is om op ʼn plek te kom waar taalgebruikers die sagteware en toerusting tot hulle beskikking het om die digitale toekoms van Afrikaans in die hede al te ervaar.

Marlie Coetzee het in 2022 ‘n Jeugkoker vir haar bydrae tot Afrikaans gewen. (Foto: Verskaf)

In 2022 het die Afrikaanse Taalraad (ATR) vir Marlie by die jaarlikse Kokertoekennings op die skouer geklop en bedank vir die werk wat sy in en vir Afrikaans verrig. Sy het dit nederig aanvaar en dié lof as ʼn prestasie nie soseer vir haarself nie, maar veral vir VivA toegeskryf.

“Hierdie tipe sukses word nie net deur ʼn individu bereik nie, maar deur ʼn span. VivA is ʼn span en hulle verdien ook hierdie toekenning,” het sy in ʼn Facebook-plasing geskryf.

Marlie sê dit is die eerste keer in agt jaar wat VivA, of enigiemand wat by VivA betrokke is, ʼn toekenning kry vir die werk wat die organisasie verrig en lewer. “So, dit is nie net vir my nie. Dit is vir VivA. Ek het in ʼn goeie manier ‘een vir die span gevat’,” skerts sy.

Die Kokertoekenning is wel op ʼn persoonlike vlak ook vir haar betekenisvol. “Jy voel regtig geëerd wanneer jy daardie trofee vashou. Dit is of ek nou in ʼn fase van my loopbaan beweeg waar mense my meer in die binnekringe toelaat en na my opinie sal luister, en ek dink op moeilike dae motiveer dit ʼn mens om aan te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.