Bloem-skrywer se ‘Spel’ goud werd

Annerle Barnard, jeugfiksieskrywer (Foto: Annerle Barnard/Facebook)

“Dit was die moeilikste boek wat ek nog ooit geskryf het. Trouens, ek wou in ʼn stadium net al die woorde wat ek tot op daardie punt geskryf het, uitvee en tou opgooi.”

So sê Annerle Barnard wat pas ʼn Sanlam-goud vir haar jeugroman Spel gewen het.

“Ek het in matriek laas met wetenskap te doen gehad en toe nie eintlik gedink dat ek ooit ʼn wetenskapfiksieverhaal sou skryf nie,” vertel Barnard.

Die Bloemfonteinse skrywer sê dit het alles by ʼn droom begin wat haar aan die Pacman van ouds herinner het. In die droom het robotte mense in hul motors gejaag en die enigste manier om te oorleef, was om te draai. Barnard het toe sy wakker word geweet die droom moes in ʼn boek omskep word.

Sanlam en Tafelberg, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, het pas die wenners van vanjaar se Sanlampryse vir Jeuglektuur bekend gemaak.

Die keurders meen Barnard so wenmanuskrip is ʼn spannende verhaal waar die kontras tussen moderne en tradisioneel sterk na vore kom en kunsmatige intelligensie en menslike vermoëns teenoor mekaar opgeweeg en afgespeel word.

“Uiteindelik bewys die uiteenlopende karakters dat verskillende wêrelde tog kan saamwerk en in vrede die voortbestaan van alle lewe verseker”.

Barnard het in 2019 silwer verower vir haar aksiebelaaide reisverhaal Sindikaat wat deur die paneel as ʼn “weldeurdagte, realistiese storie wat die leser tot op die laaste bladsy boei” beskryf is.

Betsie van Niekerk het silwer gewen vir Anderkind, ʼn historiese jeugroman wat in die tyd van die Groot Griep in 1918 afspeel.

Volgens die keuringspaneel is die tema oor oorlewing en saamgestelde gesinne wat byeenkom te midde van swaarkry relevant en kan lesers grootliks hiermee vereenselwig.  Van Niekerk het ook in 1996 ʼn Sanlamprys vir Gamkab ontvang.

In die kategorie vir Engelse fiksie is die goue prys aan Catherine Jarvis toegeken vir The Swim Team, wat deur die keurders as “’n uiters aktuele verhaal” beskryf is. Jarvis se jeugroman ondersoek kwessies soos rasseverhoudings en bevoorregting wat spesifiek in stedelike Suid-Afrikaanse skole ervaar word.

Penny Lorimer het silwer gewen vir Luntu Masiza Tells the Truth wat volgens die paneel ʼn lewensgids vir alle tieners behoort te wees. “Die verhaal oor ʼn tienerseun wat sonder ʼn pa in die township grootword, is relevant en kontemporêr.”

Sandile Ngwenya het met Imali yezipoki goud gewen in die kategorie vir Afrika-tale en Thulani Simayile is met Sanlam-silwer bekroon vir sy Xhosa-roman UNolali.

Die Sanlampryse vir Jeuglektuur word sedert 1980 toegeken en is ingestel om oorspronklike en kreatiewe skryfwerk vir tienerlesers en jong volwassenes tussen die ouderdomme van 12 ot 18 jaar oud aan te moedig.

Die pryse word tweejaarliks vir nuwe manuskripte toegeken en dan word twee wenners (goud en silwer) in elk van drie kategorieë (Afrikaans, Engels en Afrika-tale, wat Nguni- en Sothotale, Tshivenda en Xitsonga, insluit) aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.