Boek: Hoe om ‘rykbreinkeuses’ te maak

Die kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling se jongste boek, Rich Brain, Poor Brain, wat hy saam met Wouter Snyman en dr. Raché Rutherford geskryf het, is nou in Afrikaans met die titel Ryk brein, arm brein, beskikbaar.

Snyman is ʼn finansiële kenner en stigter van finansiële diensfirma Attooh!, en Rutherford is medestigter van die Kreatiwiteitstigting van Suid-Afrika.

In Ryk brein, arm brein wil die skrywers jou help om jou denkwyse te verander sodat jy groter finansiële welvaart vir jouself kan skep.

Neethling sê ná sewe jaar van navorsing oor die potensiaal van jong kinders was dit vir hom duidelik dat kinders tussen nul en drie jaar beskik oor iets wat hulle in dié boek “rykbrein”-vermoëns noem.

As gevolg van “armbrein”-ouerskap en -opvoeding word kinders groot met die idee dat ‘n rykbrein-lewe net vir ‘n paar uitgesoektes beskore is. Hulle begin hul natuurlike eienskappe soos kreatiwiteit, passie, moed en energie ontken en ignoreer, en volg die gewone en tradisionele paadjies waarvoor hulle die meeste beloning ontvang.

Volgens Neethling word kinders begelei om te dink en keuses te maak wat dinge hou soos dit is, eerder as om dit te verbeter en verryk.

“Ons weet, en ons navorsing het dit keer op keer bewys, dat kinders en volwassenes van alle ouderdomme en kulture nie hul vermoë verloor om rykbreinkeuses te maak nie. Hierdie keuses kan aangeleer en onderrig word.”

Maroela Media het in ʼn reeks onderhoude met Neethling, Snyman en Rutherford oor verskeie onderwerpe wat met die boek verband hou, gesels. Klik hier om die onderhoude op Maroela te luister.

Ryk brein, arm brein deur dr. Kobus Neethling, Wouter Snyman en dr. Raché Rutherford is beskikbaar by Graffiti Boeke, alle goeie boekwinkels en kan aanlyn by Amazon bestel word. Besoek die Kobus Neethling-instituut se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor die boek, breinprofiele en kreatiwiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.