Boek-uittreksel: ‘Negentien minute’ deur Jodi Picoult

Hier volg ʼn uittreksel uit Negentien minute deur Jodi Picoult. Dit is deur Daniel Hugo vertaal.

Dr. Guenther Frankenstein werk al ses jaar lank as staatspatoloog, net so lank as wat hy die Meneer Heelal-titelhouer in die vroeë 1970’s was. Dit was voordat hy sy staafgewigte vir ’n skalpel verruil het. Of, soos hy dit so graag stel, gevorder het van liggaamsbou tot liggaamsdisseksie. Sy spiere is steeds iets om te aanskou en duidelik genoeg sigbaar onder sy baadjie om enige poging tot monstergrappies oor sy vreemde van te verhoed. Patrick hou nogal van Guenther – hoe kan jy nié ’n ou bewonder wat ’n stuk yster drie keer so swaar soos hyself kan oplig en terselfdertyd genoeg kennis het om met een oogopslag die gewig van ’n lewer te skat nie?

Elke dan en wan knak Patrick en Guenther saam ’n paar biere wat die voormalige liggaamsbouer se bloed met nét genoeg alkohol versterk om hom stories te vertel oor vroue wat aangebied het om sy liggaam voor ’n kompetisie te olie, of goeie anekdotes oor Arnold Schwarzenegger in die dae voordat hy ’n politieke dier geword het. Vandag het Patrick en Guenther egter nie kans vir grappies nie, ook nie vir praatjies oor die goeie ou dae nie. Dit wat nou voor hulle afspeel, oorweldig hulle terwyl hulle in stilte deur die skool se gange loop en die dooies katalogiseer.

Patrick het afgespreek om Guenther by die skool te ontmoet ná sy mislukte poging tot ’n onderhoud met Peter Houghton. Die staatsaanklaer het net haar skouers opgetrek toe Patrick haar vertel het dat Peter glad nie wil of kan praat nie. “Ons het honderde ooggetuies wat sê dat hy tien mense vermoor het,” het Diana geantwoord. “Neem hom in hegtenis.”

Guenther gaan sit op sy hurke langs die liggaam van ’n sesde slagoffer. Sy is in die meisieskleedkamer geskiet, en haar liggaam lê gesig na onder voor die wasbakke. Patrick kyk na die skoolhoof, Arthur McAllister, wat ingestem het om hulle vir identifikasiedoeleindes te vergesel. “Kaitlyn Harvey,” sê die hoof. Sy stem klink doods. “Leerder met spesiale behoeftes… liewe meisiekind.” Guenther en Patrick kyk vir mekaar. Die hoof identifiseer nie net die liggame nie – hy verskaf elke keer ook ’n huldeblyk van een of twee sinne. Patrick weet dat die man dit nie kan verhelp nie – anders as hy en Guenther is hy nie gewoond daaraan om tragedie te hanteer gedurende ’n gewone werkdag nie.

Patrick probeer die hele tyd om Peter se voetspore na te volg, van die voorste gang af tot by die kafeteria (Slagoffers 1 en 2: Courtney Ignatio en Maddie Shaw) tot by die trappe nét buite die deur (Slagoffer 3: Whit Obermeyer), tot by die seunskleedkamer (Slagoffer 4: Topher McPhee), af met nog ’n gang (Slagoffer 5: Grace Murtaugh) tot in die meisieskleedkamer (Slagoffer 6: Kaitlyn Harvey). Ná hy die span trap-op gelei het, draai hy links by die eerste klaskamer in en volg ’n bloedspoor tot by ’n plek naby ’n skryfbord waar die liggaam van die enigste volwasse slagoffer lê… en langs hom ’n jong man met sy hand styf oor die man se maagwond. “Ben?” vra McAllister. “Wat maak jy nog hier?”

Patrick kyk na die seun. “Jy is nie ’n paramedikus nie?”

“Ek… nee…”

“Jy het vir my gesê jy is ’n paramedikus!”

“Ek het gesê ek het mediese opleiding.”

“Ben is ’n padvinder,” verduidelik die skoolhoof.

“Ek kon nie meneer McCabe net hier los nie. Ek… het drukking toegepas, en dit werk, sien julle? Die bloeding het opgehou.”

Guenther haal die seun se bebloede hand saggies van die onderwyser se maag af. “Dis omdat hy weg is, seun.”

Ben se gesig vertrek. “Maar ek… ek…”

“Jy het jou bes gedoen,” verseker Guenther hom.

Patrick kyk na die skoolhoof. “Waarom neem u nie vir Ben buitentoe nie… en laat een van die dokters na hom kyk?” Skok, vorm sy mond die woord bo-oor die seun se kop.

Toe hulle by die klaskamer uitstap, gryp Ben die hoof se mou styf vas en laat ’n helderrooi handafdruk daarop agter. “Liewe Vader,” sê Patrick, en vee met sy hand oor sy gesig.

Guenther staan op. “Kom. Kom ons handel dit af.”

Hulle stap gimnasium toe, waar Guenther die dood van nog twee leerders aanteken – ’n swart en ’n wit seun – en gaan dan na die kleedkamer waar Patrick vir Peter Houghton gevind het. Guenther ondersoek die liggaam van die seun wat Patrick vroeër gesien het, die kind met die yshokkietrui aan wie se pet deur ’n koeël van sy kop af geblaas is. Patrick loop intussen na die stortvertrek langsaan en kyk by die venster uit. Die verslaggewers is nog steeds daar, maar die meeste gewondes is versorg. Van die sewe ambulanse is daar nog net een oor.

Dit het begin reën. Môreoggend sal die bloedvlekke op die sypaadjie buite die skool afgewas wees, so asof vandag nooit gebeur het nie.

“Dís nogal interessant,” sê Guenther.

Patrick maak die venster toe om die onweer uit te hou. “Waarom? Is hy dooier as die res?”

“Ja, nogal. Hy is die enigste slagoffer wat twee keer geskiet is. Een keer in die maag, een keer in die kop.” Guenther kyk na hom. “Hoeveel vuurwapens het jy by die skieter gevind?”

“Een in sy hand, een op die vloer, hier, en twee in sy rugsak.”

“So daar was ’n ondersteuningsplannetjie.”

“Vertel my meer?” sê Patrick. “Kan jy sê watter koeël het die slagoffer eerste getref?”

“Nee. My raaiskoot is egter dat dit die een in die maag is… omdat dit die gat in sy brein was wat hom doodgemaak het.” Guenther kniel langs die liggaam. “Miskien het hy hierdie kind die meeste van almal gehaat.”

Die kleedkamer se deur vlieg oop, en daar staan ’n verkeerskonstabel wat druipnat is weens die skielike reënbui. “Kaptein?” sê hy. “Ons het nou net nog ’n tuisgemaakte pypbom in Peter Houghton se kar gekry.”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Jonathan Ball Uitgewers, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae