Boek-uittreksel: Net voor die droogte my breek

Hiermee ‘n uittreksel uit Anoeschka von Meck se boek, Net voor die droogte my breek.

Lee Laubscher (Calivinia – Brandvlei): Sjoe-eina!

As daar iemand is oor wie Lee Laubscher lank sal treur wanneer hy eendag nie meer daar sal wees nie, is dit Fransie Koert. Ou Fransie se gesig lyk soos ’n dorre pan vol slote waar modderteëls in die son gekraak en opgekrul het. ’n Reliëfkaart van agter skaap aanloop, aankeer, vang, doseer en hansies soggens bottel gee. Van met sy skaaphond in die veld stap en in 2019 met Lee se aansporing, ook ’n stemboodskap op Whatsapp los.

“Dit gaan goed, Kleinnôi. Ons wag ’n reëntjie,” laat hy my weet.

Ek wil Fransie se boodskappie nooit as te nimmer afvee nie, want dis asof die veld self praat. ’n Stem wat my vervoer na ’n paadjie wat agter die leë dam teenaan die windpomp se been verby en dan bossie-om-om al op die veegoed se spoor volg.

Fransie se praat is ’n oergesig wat in ’n warrelwindjie vorm en hier oral om jou van ander tye vertel. Die woorde is nie duidelik gevorm nie, die tande min en die rooktonnel al hees.

Op Lee Laubscher se werf, ’n vroualleenboer in die Brandvlei-distrik, is Fransie lankal nie meer “net” ’n werker nie. Hy het die landskap van Lee se hart betree. Nie omdat hy al 20 jaar daar is en Lee met sy ouers op haar pa se plaas grootgeword het nie, maar omdat Fransie ’n eie mens is.

Van die aarde. ’n Klipsit-, kripvolmaak- en skaapkopeet-mens. Fransie het ook skaap en Lee meen die bokke is maar eintlik syne. Onder op die grootpad moes Calvinia se ambulans al goed briek trap om ou Fransie en sy trop bontbokke skrams mis te ry.

“Die stof het skoon gestaan dat ek dit hier van die huis af kon sien!” vertel Lee wat toe ’n einde gemaak het aan Fransie wat sy bokke oorkant die teerpad laat wei.

Fransie wil nie sy bril dra wat Lee hom gekoop het nie. Fransie dra ook net die klere wat klaar aan sy lyf is. Daar is nie plek vir nog nuwes nie. Hy sien geen sin daarin nie. Lee kan maar aandra.

“Ons doen hierdie ding saam, nè, Fransie? Dis mos ons plek hierdie,” hoor mens Lee dikwels sê. Dan loop hulle deur die kampies, word daar voersakke oor die skouer gedra of tiete op leë bierbottels vir die hansies gesit waarin rooibostee reeds uit ’n emalje-emmer geskep is.

’n Bosluis agter die oor is nie ’n probleem nie, ou Fransie draai hom sommer so af. As daar vloedwaters kom soos wat in ander jare gebeur het en hy raak weg langs die rivier in ’n doodvriesnag, dan kruip Fransie onder ’n bos in en kom lewend anderdagmôre weer daar orent.

Fransie Koert wat boer in die Brandvlei-distrik, Noord-Kaap (Foto: Anoeschka von Meck)

“Fransieee!” hoor mens van vroegdag tot skemer vir Lee roep. En as sy nie vir Fransie soek nie, is dit weer hy op die voorstoep wat wil weet waar is die hansies se tee?

Fransie is al afgetree, maar help nog met die hansies bottel gee. Van die erf en krale sal hy tog in elk geval nie kan wegbly nie. Sy ID-boekie maak hom 71, maar Lee meen die datum is verkeerd opgegee en dat hy dalk ouer kan wees.

Lee en Fransie se heen-en-weer op die plaas is soos ’n wysie wat elke dag gesing moet word. Al die diere ken dit. Oral rek neusgate en word daar ore gespits as dié bekende klank oor die werf gehoor word.

“My boerdery is maar eenvoudig,” vertel Lee my in haar sitkamer by haar swaar houttafel van dwarslêers waar daar al heerlik voor die vuurmaakplek gekuier is. “Jy kan my nie vergelyk met die vroue wat groot kommersieel en wetenskaplik boer nie. Ek is ’n bestaansboer.”

Destyds toe ek Lee ontmoet het, onthou ek hoe verstom ek was dat ’n vrou in hierdie dag en tyd nog sou kies om te boer. En dit, vingeralleen. Intussen het ek baie wyser geword. Daar is heelwat van hierdie boere wat hulle deur niks en niemand laat afsit nie.

“Al was ek op ’n tyd in die polisie en het ek dit baie geniet, was boer nog maar altyd deel van my,” vra ek haar uit oor hoekom sy hierdie lewe kies terwyl sy weet hoe gevaarlik dit nou vir boere is. “Van kleins af het ek met plastiek diertjies plaas-plaas gespeel. Ek het ’n hele koekblik vol van hulle gehad,” onthou sy.

Lee was op haar dag ’n luitenant-kolonel.

Ek ken twee Lee’s. Lee op haar plaas en Lee in die dorp. Op haar plaas kan jy sien sy is aan die werk. Sy dra dikwels ’n snaakse hoedjie, growwe skoene en ’n veehaakkierie. Daar is nie tyd vir fieterjasies nie. Dit is in en uit by die voordeur, honde agterna. Op die stoof staan ’n groot kastrol waarin die hansies se melk en rooibostee geroer word. Maar kom Lee op die dorp, hou sy daarvan dat haar kapsel reg ingedraai moet wees, die klere smaakvol en altyd oorbelle vir afronding.

Dat sy hulle byna altyd ook verloor, is ook ’n feit.

Lee praat van haar “veegoed”. Sy boer al 25 jaar. Lee ken haar diere en wanneer daar niemand byderhand is om haar koei te melk nie, doen sy dit self.

“Ek was nog altyd baie lief vir die bontskaap, want dit is ’n vrugbare skaap en gehard in die veld. Ek is lief vir bont goed! En vir bokke en vir beeste!”

Ek vra oor die droogte en waterbronne? Lee se grond val onder somerreëns. Sy teken haar reënvalsyfers voor in haar Bybel aan.

Anoeschka von Meck tussen die trokke voer wat deur Burre Burger se Droogtehulpfonds geskenk is (Foto: Anoeschka von Meck)

“Ons probeer tot so Februarie uithou, dan weet ons, ons het nou ’n lekker groen winter. As ek net so twee duim harde reën in die seisoen kan kry. Die gronddam hier agter, as hy nou lekker vol is, kan ek my ander dammetjies uit hom vol maak. Die dam se water kom uit die buiteveld. Ek is so gelukkig dat nog nie een van my boorgate opgedroog het nie. Dan het ek ook nog die riviergrond. Dit help nou ook. Ek het nou my skapies soontoe geskuif, maar dan word hulle daar weer deur die jakkalse en die katte gevang.”

Die eerste keer wat ek daarvan gehoor het – van varke wat skape vang – kon ek dit moeilik glo. Lee vertel sy het groter las van hierdie wilde varke, wat eens aan iemand behoort het, as rooikatte of jakkalse.

“O, die varke! Iewers het daar ’n duisternis varke in die veld gekom wat ons skape se kos vreet. Dit was aanvanklik mak varke wat hier in die rivier afgekom het. Hulle teel mos aan by die hordes en mens kry hul eenvoudig net nie uitgeroei nie. Hulle disintegreer in die erdvarkgate in. Nou maak jy jou draad reg tussen jou en jou buurman en môre is daardie pale deur die varke omgedruk.”

Lee vertel sy het al een van die varke met ’n lam in die bek gesien.

“En ek sê net gou vir jou hulle is uitgeleerd. Ons het al probeer vang van hulle. My werksmense is mos mal oor die varkvleis. Dis ’n groot probleem. As die rivier droog is, gaan hulle ook na die suipdammetjies. Party so groot soos beeskalwers.”

Hoe het die droogte ’n impak op haar finansies?

“Ek kan nie net sommer meer besluit om Kaap toe te ry nie, want jy moet nou net eenvoudig elke sent omdraai. As ek nou iets begeer soos ’n paar skoene, dan meet ek dit aan die waarde van ’n sak mielies vir my diere.”

Die eensaamheid vang Lee soms oor naweke en oor Desembermaande. Sy verwys na haar plaas as “Alleentjies” en stuur saans ’n aandboodskappie vir haar vriende op die dorp.

“Ek sê ok vir mense, moet nie Desembermaande kom kuier nie, want dit is nie lekker hier nie.”

Haar sonkrag is te swak om waaiers te kan gebruik. Jy leer maar so om met die hitte, wat dan op sy ergste is, saam te leef. Gelukkig maak sommige van haar vriende plan en wanneer hulle op pad see toe langs die grootpad verby kom, wag hulle eers daar vir haar. Lee ry af om hulle daar te kry en daar word piekniek gehou langs die pad voor almal weer hul eie rigting kry.

“Dit troos darem ’n bietjie. Dat ek ok mens sien.”

Op Kersdag is sy gewoonlik stoksielalleen.

“Ek bly by my huis om na my goed te kyk, want niemand kan beter na jou goed kyk as jyself nie, maar dit is nie lekker nie. Maar jy raak mos maar gewoond aan goed. Dit is my tradisie.”

Lee sê sy hou nooit op na haar twee volwasse kinders verlang nie.

“Toe my dogter in die Kaap begin werk het, en ek ry Vrydae van die dorp af plaas toe, was dit erg om te besef die plek hier langs my in die bakkie is leeg.”

Wat is spesiaal hier?

“As ek saans gaan lê, die rustigheid. En smôrens is dit mos ’n koor. Dis heerlik om met my tablet in die kooi te gaan sit en dit is doodstil. En as my hartsmense vir my kom kuier op die plaas. Van Hermanus byvoorbeeld. Ons maak pot op die vuurtjie. Dit is die prima-tyd in my lewe. Ek hou van mense en wil nie op my eie wees nie.”

Lee kyk oor my skouer oor haar erf uit wanneer sy hardop wonder oor hierdie droogte.

“Calvinia se mense dink partykeer as hulle reën kry, kry ek ook reën. Ons ken mos maar die droogte van hierdie wêreld, maar hierdie droogte, kan ek vir jou sê – ek ken dit nie.”

Lee ry gereeld van haar veegoed terug huis toe aan. “Ek ry maar kort-kort ‘draadkarre’ huis toe en gee vir hulle ’n ekstra voertjie. Ek kan ’n ooi met ’n tweeling nie weerstaan nie. Dan hou ek hulle hier om die huis in ’n kampie tot hulle weer sterk genoeg is.”

Uittreksel uit die boek Net voor die droogte my breek
Uitgewer: Christelike Lektuurfonds
Prys: R299 (posgeld uitgesluit)*
*Prys onderhewig aan verandering
Die boek word 23 November vrygestel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.