Boek van die maand: ‘Luistervink’ deur Madré Marais

ʼn Luistervink, gaan die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal besonder kort in sy verklaring, is “iemand wat afluister wat ander praat, byvoorbeeld om die polisie te help om ʼn verdagte vas te trek”. Op die spoor van dié enkele voorbeeld wat HAT bied, gaan die wêreld van misdaadondersoek oop en kom forensiese vernuf meteen ter sprake.

Hoewel Madré Marais “luistervink” as titel van haar bundel kortverhale omvangryker as dié definisie inspan, is dit die toonaard van forensiese ondersoek wat reg deur dié 13 verhale bly draal. Eweso kry “misdaad” in dié bundel ʼn wyer betekenis: dade wat dalk nie direk teen die wet is en derhalwe gestraf gaan word nie, maar weens die sistemiese aard daarvan nie minder wreed is nie.

Dat “afluister” ten grondslag lê van skryf – ook ten opsigte van die tradisie waarbinne geskryf word – blyk duidelik uit Marais se verhale. Die leser kom ʼn skrywer teë met gespitse ore wat benewens die hoorbare ook ʼn oop oor het vir die ongehoorde. Maar skryf is meer as net fyn luister en dit is in die opskryf waarin Marais luisterryk haar verhale weef en vleg: vorentoe skryf én terug; leidrade bied en koppeling bewerkstellig tussen verhale, ten opsigte van plekke, omstandighede, karakters wat as buitestanders figureer, maar ook in die gebruik van terugkerende woorde soos tralies, grond, vlieg, kewers, kers en vlam. So wys die hadeda wat op bladsy 84 met ʼn kras oopbekklank sou kon wegvlieg, op bladsy 144, in ʼn ander gedaante, sy lang swart baadjie wat ʼn oomblik pers en groen blink. Dat Marais subtiel kan weef is nie altemit nie.

Boonop kies Marais haar karakters juis vanweë hulle “luistervink”-vermoëns. Karakters wat waarneem, soos Nita wat al dopgehou het hoe party mans Kleintjie se gedoende vingernael volg van die lyntjie waar hulle op ʼn bladsy ʼn handtekening moet maak “al die pad met haar arm op tot by haar gesig” (47); wat opskryf en lysies maak (61); wat dagboek hou (60); wat gedagtes kan lees met of sonder “linkerhand authentic fortune teller- bewegings” (122) en wat só bewus is van ander se stemme in die binneoor dat hulle moeite het om hulself te hoor: “Lukas sê dis tydmors watermors die bondels wat ek maak…” (61), “jy mag nie gelukkig wees nie, het jy soveel keer gesê …” (74), “(j)y verdien nie om gelukkig te wees nie, het jy met jou suur asem by my oor gefluister …” (74).

Dié boodskappe wat iewers gestoor bly in die agterkop, en wat bly treiter, word die (geïnstitusionaliseerde) geweld waarteen Marais se karakters rebelleer, elkeen op haar en sy eie klein manier en in triomf wat gering sou kon voorkom, maar nie noodwendig so gering is nie. Hier is sprake van geweld van besit en besitlikheid wat as liefde paradeer wat in wese tralies word, soos in die verhaal “Lafbaait”. En dit is die sistemiese geweld wat ʼn karakter soos Theo oor die wal kan stoot in “Sinker”, ʼn fyn getekstureerde verhaal waarin Marais meesterlik met woordekonomie (in net meer as twee bladsye) toor met die spel tussen “sinkers” en “knaters” en die verwysing na Theo se pa wat in sy baard mompel “dat net moffies enigiets kleiner as ses onse in die see gooi” (24).

Die feit dat die bundel opgedra word aan die landskap (“jou vlaktehemel en jou sterreveld” in ʼn spel met die woorde van Ina Rousseau se gedig “Lewe”) vestig die aandag op die landskappe waarbinne lewe gestalte kry – grotendeels droë omgewings, plekke met name soos Grootgeluk, Doornrant, Kalklaagte en Onskuld. Gaandeweg kry ʼn mens die gevoel die karakters tree op soos wat hulle optree juis omdat hulle in die landskappe lewe waar hulle is.

Nietemin, “(m)y verhale begin bitter selde by ʼn karakter,” het Marais in ʼn onderhoud met LitNet gesê. “Dit is liewer iets soos ʼn toneeltjie wat afspeel of ʼn oomblik tussen mense wat my laat wonder wat eintlik daar aan die gang kan wees….” Dít klink soos die waarmerk van ʼn ware luistervink.

Oor die tradisie van die kortverhaalgenre waarbinne Marais skryf en heerlik verruim – dit is veral die gevoel van Jan Rabie se 21 wat sy by tye, soos in “Jy loop na ʼn drom en skep” en “Hadeda”, wakkermaak.

  • Luistervink deur Madré Marais word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R220.
  • Klik hier om na ‘n boekvoorlesing van ‘n uittreksel van die boek te luister

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.