Boek van die maand: Pirow Bekker se ‘Beurtelinge’

Sedert sy debuut in 1965 met die digbundel Die klip sing het Pirow Bekker homself gevestig in die letterkunde as iemand wat skryfwerk in verskillende vorms lewer. Kort ná die verskyning van sy debuut het sy proefskrif, Die titel in die poësie (1970), gevolg waarin hy die aktiewe bydrae van die titel van ʼn gedig tot die struktuureenheid van die geheel benadruk. Hoewel ʼn mens geneig is om aan Bekker te dink as digter, strek die omvang van sy skryfwerk veel verder en het hy in 1975 sy eerste bundel kortverhale gepubliseer, Die peerboom en ander verhale, waarin hy die wêreld van die jong seun herskep.

Twee jaar later het sy eerste roman, Die sentrum (1977), gevolg en in 1991 het hy ʼn Artes ontvang vir Die herberg by die brug, sy hoorspel oor Clara Schumann.

Op 86 het Bekker einde verlede jaar vorendag gekom met Beurtelinge, ʼn “romoir”, iewers tussen roman en memoires. Die woorde van DM Thomas wat voor in Beurtelinge as motto aangehaal word, onderstreep die gedagte van romoir: “We all live in our own unique and semi-fictional novel.”

Soos Elsa Joubert se Spertyd (2017) is die trant van Beurtelinge dié van besinning, van terugkyk, van weeg en oorweeg en aan die hand daarvan vorentoe kyk. Gesoute skrywer wat Bekker is, doen hy dit aan die hand van die verskillende skryfvorms wat hy sy lewe lank beoefen – daar is elemente van reisbeskrywings, kortverhale, dagboekinskrywings, briewe, aanhalings uit gedigte, gesprekke tussen die skrywer en sy vrou en les bes besinnings oor die letterkunde. Al dié elemente word vernuftig ingevleg in dié herinneringsreis waarvan “alle weglatings… lê in die skootrekenaar van die spookskrywer, mnr. Alzheimer”.

Die gedagte van “weggekalwerde geheue” en “die stroom… (wat) in die afgelope tyd sterker geword” het, word die matriks in Beurtelinge, en veral in die gesprekke tussen die skrywer en A., soos hy sy vrou in die boek noem. “Alzheimer is in die familie en sy het ʼn doodse vrees daarvoor” (1). A. se pa was ʼn besproeiingsboer aan die Oranjerivier se kanale en die beeld van lewegewende water én water wat kan opraak duik telkens op. “Ek is maar soos ʼn ou skemaboer wat sy leibeurt die dag laaste gekry het en nou probeer hy in die skemer ʼn paar laaste akkers op sy erf nat kry voor die waterfiskaal sy sluis toesteek” (151).

Die titel van die boek roep derhalwe iets van leibeurt op, iets van die beurt wat elkeen op aarde kry.

Bekker se digbundels Van roes en amarant (2008) en meer Atlas teen die vergeetrivier (2013) het reeds verwysings na geleidelike aftakeling en die versugting om soos die mitiese Atlas die aarde op sy skouer te lig en oor die “vergeetrivier” te dra en só nie in die vergetelheid te versink nie.

Swaarmoedig is Beurtelinge nie. Bekker vleg dikwels tong in die kies en soms meer wrang humor in sy memoires in, soms aweregs. Soos die koppeling van die Ford Fairlane van die Goewermentsgarage (GG) wat hy en PG du Plessis eenkeer op ʼn besoek aan uitgewers en skrywers in die Wes-Kaap “op ʼn plesierrit geneem het”, en die Genadige Geheue (GG) waarna Van Wyk Louw verwys het, “bedoelende waarskynlik dat hy onaangename dinge maklik vergeet” (308).

Bekker beskryf onder meer sy jeugjare in die Suidoos-Vrystaat en die Oos-Kaap, sy studiejare aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, sy jare as hoofsub by Die Volksblad in Bloemfontein, sy loopbaan as akademikus, as hoof van die RGN se dokumentasiesentrum en later ook as boer.

Beurtelinge se eerlikheid maak dit ʼn waardevolle werk. Die boek is agterin voorsien van ʼn persoonsregister wat verwysing maklik maak.

Pirow Bekker se Beurtelinge, sy 23ste publikasie sedert 1965, word uitgegee deur Hemel en See en kos R290. Jy kan ook ʼn kopie hier aanskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.