Boek van die maand: ‘Swart swaan’ deur Wilken Calitz

Nassim Nicholas Taleb, die Libanees-Amerikaanse denker wat in verskeie van sy boeke met onsekerheid as tema omgaan, het in navolging van Juvenalus, die eerste-eeuse satirikus, met die teorie van die “Swart Swaan” vorendag gekom. Sy gelyknamige boek het in 2007 verskyn.

In Taleb se woorde is ʼn swart swaan iets wat buite die algemene verwagting lê (omdat niks in die verlede die bestaansmoontlikheid daarvan oortuigend kon aandui nie); dit is iets met uitsonderlike trefkrag; en dit is iets wat ʼn mens terugskouend met behulp van konkoksies verduidelikings verstaanbaar en voorspelbaar kan maak.

Die ander manifestasie van ʼn swart swaan waaraan ʼn mens sonder meer dink, is Darren Aronofsky se sielkundige riller van 2010, Black Swan, met Natalie Portman in die hoofrol. In dié konteks staan die konsep swart swaan moontlik vir goed soos die vaag omlynde, die onderduimse, ʼn situasie wat buite beheer is en desnoods een wat ʼn mens laat besluit jy gee in.

Dit was immers met dié verwysings as vertrekpunt waarmee ek Wilken Calitz se debuutroman, Swart swaan, benader het.

Dis die verhaal van Fabian, ʼn veiligheidswag by ʼn (fiktiewe) casino iewers aan die Oos-Rand. Sy vrou, Merinda, bedryf ʼn pandjieswinkel digby die casino (die stram simbiose tussen pandjieswinkel en casino spoel oor na die nog strammer verhouding tussen dié twee), en die ander belangrike gegewe wat die leser oor haar te wete kom, is haar swak vir witwyn.

Morris (Mossie) met sy Billabong-baadjie is Fabian se goeie vriend en woon nou in ʼn tent nadat hy uit die tronk vrygelaat is. Mossie het ʼn ding vir likkewane, en koester wraakgedagtes.

Fabian, wat verkies om as “kaptein” by die werk aangespreek te word, het nie net drome van ʼn geluksalige vaart op die MSC Symphony nie, maar ook van roem … en ʼn kind.

Intussen het ʼn monsteragtige wese (iets soos uit ʼn Ou Testamentiese visioen) hom in Fabian se tuin tuisgemaak nadat dié uit die grond gebreek het. Adriaan noem Fabian dié wese, of “seuna”. Dié moet gevoer word, en dit is waar sy vriend Gielie die slagter inkom.

Calitz se roman word op die agterblad beskryf as “ʼn surrealistiese sprokie vir volwassenes”. Hou ʼn mens in gedagte dat sprokies vir kinders dikwels gaan oor probleme wat opgelos moet word – onder meer dié van ʼn identiteitskrisis, die strewe na selfstandigheid, ʼn soeke na sekuriteit en die ervaring van verwerping deur ouers – is dié tipering van Swart swaan nie uit die kol nie.

Meer as surrealisties is Calitz se “sprokie” eerder pikaresk met ʼn gevoel van Angela Carter wat plek-plek deurslaan. Pikaresk in dié opsig dat Fabian eintlik ʼn skemerwêreldkarakter is – nie so onguur soos byvoorbeeld Mossie nie – maar nietemin iemand wat kan swendel ter wille van oorlewing. Fabian is tegelyk avonturier en deugniet, buitestander en ʼn hoofkarakter wat die waan van die samelewing blootlê. Soos sy pa voor hom gemeen het ʼn “nugget” uit ʼn myn is die antwoord op probleme, het Fabian sy trommel wat in sy agterplaas begrawe is, en om dieselfde rede daag mense voortdurend by die casino op. Dit is dié sug na rykdom en die beter lewe wat hulle dryf, en uiteindelik die verlies wat dobbel meebring wat hulle laat “spring, snuif, skiet” (76).

As boontjieplanter (wat die naam Fabian beteken) plant Fabian sy trommel/staalkas/nugget/boontjie soos Jan in die sprokie, maar die goue gans bly buite bereik. Wat hy wel kry, is ʼn swart swaan.

Die omgewing waar Fabian woon dra die merke van die mens se onverpoosde soeke na die ontwykende “nugget” – die een mynhoop op die ander, en nou het ʼn kraak onheilspellend in die pad verskyn waaruit mynwater syfer. Te midde van dié troostelose landskap is daar iewers ʼn eiland (14), meen Fabian, ʼn oorsee, waar hy en Merinda nie net weer lovers kan wees nie, maar waar Luilekkerland voluit gaan manifesteer. So het Merinda met die geskende gesig byvoorbeeld haar witwynwêreld en Mpilo (Fabian se kollega by die casino) sy boekwêreld waarin hy versonke is. As ʼn vorm van ontsnapping.

Agterna gesien is ʼn swart swaan verstaanbaar en straks voorspelbaar met die konkoksies verduidelikings wat ʼn mens oprakel, sê Taleb. Konkoksies soos byvoorbeeld in die geval van die kinderlose Fabian wat agterna aan homself dink as “handsome daddy” (210).

Wilken Calitz se Swart swaan het uitsonderlike trefkrag, juis dalk omdat die roman so buite die algemene verwagting lê.

Wilken Calitz se Swart swaan word uitgegee deur Umuzi en kos R260.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.