Boekoorsig: Die Kaapse slawe 1652-1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief

Die Kaapse slawe 1652-1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief deur Eunice Bauermeester word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Liefhebbers van geskiedenis (kenners én leke) sal heerlik lees aan hierdie hardebandboek van 710 bladsye. Daar is ook volkleurfoto’s en tekeninge om jou in te verlustig. Vir my as skrywer is hierdie publikasie van besondere belang, want dit roep die wel en wee van slawe so helder voor oog dat dit die verbeelding prikkel. Droë geskiedkundige agtergrond meld aan as lewensgroot individue wat werklik geleef het en ’n invloed gehad het op onder meer taal, musiek, kos en kuns.

Die Kaapse slawe 1652-1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief beslaan sewe hoofstukke getiteld “Die koms van slawe na die Kaap”, “’n Nuwe lewe as onvry vreemdelinge: aankoms en vestiging”, “Fisieke lewenswyse en -vorme: behandeling en lewensonderhoud”, “Geestelike lewenswyse en -vorme: behoeftevoorsiening en manifestasies”, “Slawearbeid: bousteen in die Kaapse kultuur”, “Bydrae van die Kaapse slawe tot aspekte van die Suid-Afrikaanse kultuur 1652-1838 en ’n “Nawoord”.

Die lokteks op die agterblad lui: “Die slawe aan die Kaap het as draers en skeppers van kultuur, ten spyte van onderdrukking, ’n groot invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van die samelewing aan die suidpunt van Afrika en veral van ’n inheemse, kreoolse kultuur. In hierdie boek word die slawe se rol in die ontstaan van dié eiesoortige kultuur vir die eerste keer verken.”

Bauermeester het gepoog om ’n antwoord te vind op die vraag wat die kultuurhistorikus moet beantwoord, naamlik: Hoe het die mens binne ’n bepaalde tydperk gelewe en wat was die impak daarvan op die kultuur? “Onderdele soos geskiedenis, godsdiens, onderwys, sosiale patrone, regspleging en wetstoepassing, ekonomie, arbeid, ensovoorts, is bestudeer, nie ter wille van hulself as sodanig nie, maar om die onderlinge verband en die breër kultuurhistoriese beeld van die Kaapse slawe daar te stel” (14).

Ek het Die Kaapse slawe 1652-1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief insiggewend en leersaam gevind. Dit bied nie net ’n kykie op die Kaapse slawe vanuit ’n kultuurhistoriese oogpunt nie, maar gee die leser ook ’n goeie idee van hoe die lewe vir beide slaaf en eienaar destyds aan die Kaap daar uitgesien het. Vandag kan ons terugkyk op die pynlike en onmenslike bestel van slawerny en so baie daaruit leer. Bauermeester skryf tereg dat die dinamika van kultuur as menslike attribuut onstuitbaar en onvernietigbaar is (569). Die bydrae van die slawe tot die Suid-Afrikaanse kultuur is van onskatbare waarde.

Uittreksel: “Plaasslawe was veral aan slangbyt blootgestel. Dié probleem is op verskeie interessante maniere die hoof gebied. Volgens De Jong was die algemeenste gebruik om ’n groot boerboontjie of goewerneursboon oop te sny en die plat kant op die bytplek te plaas, wat dan die gif moes uittrek.[1] In sommige gevalle is die bytplek met asyn gewas. Gedroogde waterskilpadbloed, waarvan ’n paar knypies inwendig geneem en ’n bietjie op die bytplek geplaas is, is ook gebruik”[2] (166).

Meer oor die skrywer: Eunice Bauermeerster is ’n boorling van Otjiwarongo in die destydse Suidwes-Afrika. Sy het ’n B.A.-graad met hoofvakke Afrikaans-Nederlandse Kultuurgeskiedenis en Dramakunde en ’n B.A. (Honneurs) in Kultuurgeskiedenis met lof asook ’n Magistergraad in Kultuurgeskiedenis (Die Kaapse Slawe in Kultuurhistoriese perspektief 1652 – 1838) met lof aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hierdie boek is op haar verhandeling gegrond.

Die Kaapse slawe 1652-1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar, maar jy kan jou kopie ook hier bestel.

 

 

[1] G.M. Theal, History of South-Africa IV, p. 99.

[2] C. Spoelstra (red.), Bouwstoffen voor de geschiedenis der Nederduitsch-Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika 1, pp. 256-257.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Ek dink dat oor nog so paar honderd jaar gaan die mense terug verwys na die pynlike en onmenslike bestel waar mense vanaf 8 tot 5 in kantore moes werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.